"Die gedagte rondom die fees is om die identiteit van ons mense aan hulle terug te gee sodat hulle beter burgers kan wees, as 'n groep kan saamstaan en trots kan wees op hul herkoms. Ons is in die verlede van als ontneem, ons gebruike is as heidens afgemaak, maar ons wil ons jongmense weer daarvan bewus maak dat hulle 'n unieke identiteit het wat hulle behoort te vier," sê Neil Carelse, 'n aktivis vir inheemse regte en feeskomiteelid.
'n Plaaslike geskiedenisnavorser, Kathy Schulz, wat die geskiedenis van Preto (Watsondorp) nagevors het, sê daar was eintlik twee Watsondorpe. Die oorspronklike Preto-gebied is vandag gevul met ontwikkelings. Dit is die gebied links verby die Virgin Active-gimnasium in die rigting van Oudtshoorn. Waar die huidige woonhuise eindig, is daar 'n oop veld wat in die 1840's uitgelê is vir slawe. Dit was in klein erwe opgedeel. Oorkant die pad vandaar was Watsondorp geleë, op die Witfonteinplaas.
"Daar het onder andere Hottentotte gewoon wat vermoedelik hierheen verdryf is tydens die Hottentot-oorloë in die 1700's in die binneland. Daar was ook mense wat voorheen slawe was en daar was Britse name, so dit was eintlik 'n gemengde gemeenskap. Hulle is in 1904 verskuif na Kretzenshoop," sê Schulz.
Hul begraafplaas was geleë langs die Montagupaspad wat verby die gruisgroef loop, naby die Malgasrivier. Volgens argiewe dateer die grafte daar vanaf 1860, maar daar kan ook grafte van veel vroeër wees. "Ek is nog nie deur al die kerkargiewe nie, maar vanaf 1894, oor 'n periode van 10 jaar, was daar 30 begrafnisse."
Schulz sê dat die begraafplaas nog op die munisipale erfenisregister geplaas moet word.
Dit is erg oorgroei, maar die feesorganiseerders wil die munisipaliteit vra om dit skoon te maak sodat hulle volgende jaar 'n gedenksteen met die name van almal wat daar begrawe lê, daar kan oprig.
Feeskomiteelid Mervyn Davids onthou hoedat die driffie in die Malgasrivier in die Montagupas die Watsonsdorpmense se kampeerplek in die ou dae was. "Daar was selfs 'n klein gholfbaan wat later onder dwang geskuif is na waar Kingswood vandag is."
Khoi-geraamte
Die komitee gaan hom ook beywer om 'n Khoi-Khoi-skelet wat by Sedgefield opgegrawe is en tans by die George-museum gehou word, te laat herbegrawe. Volgens Linda Labuschagne word die skelet in die museumstoor gehou sedert die departement 'n beleid ingebring het dat beendere nie uit-gestal mag word nie.
"Die skelet is in 'n sittende fetusposisie, soos die Khoi begrawe is. Ons het die adres opgespoor waar dit gevind is, maar daar is nou 'n huis gebou. Indien iemand die skelet wil herbegrawe sal hulle die nodige toestemming moet verkry."
Hoogtepunt
Een van die hoogtepunte van die 'Remember Me'-fees is 'n sokkertoernooi. Die trofee waarom agt spanne by die Kretzenshoop Primêre Skool gaan meeding, is verlede week deur die George-munisipaliteit aan die fees-organiseerders oorhandig. Die eerste ronde van die toernooi is die afgelope naweek uitgestel weens die reën en dit sal sal komende Saterdag net voor die semi-finaal plaasvind.
Die program sluit ook 'n optog op 1 Desember van Blanco na die Anglikaanse kerk in Markstraat, in. Dié stap gedenk 'n optog wat inwoners op dieselfde datum in 1888 gehou het om die afskaffing van slawerny in 1838 te gedenk. 'n Diens sal by die kerk plaasvind.
'n Kliplegging word ook op 2 Desember by Kaptein Dikkop se graf in Pacaltsdorp gehou.
Gaskunstenaars wat tydens die fees wat tot 7 Desember duur, gaan optree, is 'n groep digters van Korrektiewe Dienste wat gedigte in hul boek, 'Echoes of Free Minds', sal voordra, rieldansgroepe en die gospelsanger Amanda Loïs Stone.
Vir meer inligting, bel Neil Carelse by 074 643 9860 of Sam Crowley by 060 310 8140.
Die trofee wat die wenners van die 'Remember Me'-sokkertoernooi huis toe gaan vat. Kidron Kaboni (naaslinks), hoof van sport by die George-munisipaliteit, het dit verlede week aan lede van die feeskomitee oorhandig. Hulle is van links: Mervyn Davids, Karel Lombard en Neil Carelse. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'