TUINROETE NUUS - Meer as 600 kinders verdrink elke jaar en nog meer word gestremd gelaat as gevolg van ‘n nie-fatale verdrinking.
Alhoewel damme, riviere en strande in die grendeltydperk gesluit was (dis is weer op 2 Februarie geopen), weet ons dat kinders steeds sonder toesig gaan swem.
Omdat swembaddens ook ‘n groot risiko inhou, en omdat ons weet meer as 50% van alle verdrinkings vind naby die huis plaas, deel Caville Abrahams, waterveiligheidsinstrukteur van die NSRI, graag die volgende wenke:
• Ouers moet hul kinders van kleins af leer dat hulle nooit alleen naby water mag speel nie. Kinders kan in ongeveer 4 cm water verdrink.
• Leë houers wat water opvang, moet bedek wees of buite bereik van kinders wees. Klein kindertjies is nuuskierig en kan baie maklik in so 'n houer val en verdrink. Visdammetjies, fonteintjies, toilette, slote, groot waterbakke van diere, is enkel voorbeelde waar in kinders al verdrink het.
• Indien ‘n swembad by die huis is, maak seker dat alle deure en hekke na die swembad, behoorlik kan sluit.
• Gebruik ook 'n veiligheidsnet wat aan veiligheidstandaarde voldoen.
• Sorg dat daar nooit speelgoed naby die swembad lê wat dalk in die water kan val of rol nie. (Speelgoed of 'n bal wat op die water dryf, is die grootste aantrekkingskrag vir enige kind.)
• Maak seker jou selfoon is gelaai, sodat jy dit tydens ‘n noodgeval kan gebruik.
• Wanneer jy toesig oor kinders hou, maak seker dat jou aandag nie afgetrek word deur ‘n SMS of sosiale media nie.
• Leer KPR en memoriseer die noodnommer 112.
Leer KPR en memoriseer die noodnommer 112.
Skole en instansies is welkom om vir Caville Abrahams by 071 871 9664 te kontak of stuur 'n e-pos na caville@searescue.org.za vir gratis waterveiligheidslesse.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'