TUINROETE NUUS - Die inwoners van Lancewood-plakkerskamp, ook bekend as "Die Plasie" of "Die Tavern", sit nou al vir amper drie weke sonder water.
Inwoners kry tans water van hul werksplekke, en skep glo water uit die diere se watertrôe in die veld.
Die sowat 80 mense woon op 'n stuk privaat grond, langs Lancewood-plaas*, op die Sewe Passe-pad ongeveer 15 km van Hoekwil, tussen George en Knysna. Ofskoon die area effens nader aan George geleë is, ressorteer dit onder Knysna-munisipaliteit.
Volgens 'n lid van die Vryheidsfront Plus van Sedgefield, Fanus Brink, is dit 'n gevestigde gemeenskap wat sonder dienste, vir dekades op die grond woon.
"Daar is mans, vroue en kinders - ek skat sowat 30 gesinne. Ons praat hier van 'n blokkie grond langs die pad, wat omhein is met strukture waarin mense woon," het Brink gesê. "Die groot vraag is, wanneer gaan Knysna-munisipaliteit hulle funksies koördineer sodat al die gemeenskappe binne hul jurisdiksie water op 'n gereelde basis kry?"
George senior mediaskakelbeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, het bevestig dat die plakkerskamp op privaat grond geleë is wat binne die Knysna-munisipaliteit se gebied val. "George-munisipaliteit het hierdie plakkerskamp drie jaar gelede van water voorsien. Die betrokke gebied val egter onder Knysna-munisipaliteit se jurisdiksie."
Kommunikasiebeampte van Knysna-munisipaliteit, Christopher Bezuidenhout, het gesê hul munisipaliteit voorsien gereeld water na die geaffekteerde gemeenskap.
"Ons doen egter 'n beroep op inwoners om ons voor die tyd in te lig wanneer die tenkvlakke laag raak sodat aflewerings betyds gelewer kan word," het Bezuidenhout gesê.
"Die administrasie kyk na 'n meer permanente oplossing. Daar moet kennis geneem word dat die nedersetting op privaat grond geleë is en terwyl die plaaslike owerheid 'n grondwetlike verpligting het om dienste te lewer, het die grondeienaar ook 'n verantwoordelikheid."
Inwoners van Lancewood-plakkerskamp wonder waar hulle water vandaan gaan kom.
Grondeienaars
Die grond behoort aan 'n beslote korporasie en is sowat 15 jaar gelede op 'n veiling bekom toe die saagmeule, aan wie die grond destyds behoort het, toegemaak het. Die saagmeule het blykbaar die grond aangeskaf sodat hulle werkers daar kan woon. Nadat die saagmeule toegemaak het, het die werkers daar aangebly en mettertyd het nog gesinne daar ingetrek.
Volgens Stephen Dyason, een van die direkteure van die beslote korporasie wat die grond besit, was daar jare gelede sprake dat Knysna-munisipaliteit die grond met hulle sou ruil vir grond elders, sodat die munisipaliteit beter beheer sou hê oor Lancewood-plakkerskamp.
"Dit is dalk 'n goeie tyd om nou weer daaroor te gesels," het Dyason gesê. Volgens Dyason het die inwoners van die plakkerskamp nie hulle toestemming om op die grond aan te bly nie.
Behoeftes
Volgens Brink behoort die gemeenskap met tweeweeklikse waterlewering reg te kom. "Knysna moet aan verskillende areas voorsien, en hierdie prosesse moet gekoördineer word. Die plakkerskamp se watertenks het 'n redelike kapasiteit. As hulle een keer in twee weke 'n aflewering ontvang, behoort hulle okay te wees."
'n Inwoner van die area, wat naby Die Plasie woon, het sy kommer oor die watersituasie uitgespreek. "Die inwoners wat daar woon is van 80-jarige bejaardes tot drie maande oue babas," het hy gesê.
Hier is Lancewood-plakkerskamp, oftewel "Die Plasie" geleë. Foto: Google Maps
Lancewood-plaas is die plaas van waar die bekende Lancewood-suiwelmaatskappy aanvanklik ontwikkel het, maar die eienaar van Lancewood-plaas, Mark Ruben, funksioneer heeltemal onafhanklik van die suiwelreus, wat 'n voetspoor in George en Kaapstad het. Die grond waarop Lancewood-plakkerskamp geleë is, behoort nie aan Ruben nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'