RUBRIEK - Eers het dit net gelyk soos 'n paar stukkies geskeurde papier. Dit het op die punt van my bed gelê en was op die oog af niks ernstig nie. Ek sou dit vinnig optel en in die asblik gooi.
Toe het ek nadergestaan en in daardie breukdeel van 'n sekonde het die werklikheid ingesink: Dis 'n R100-noot.
Dadelik het ek gekyk hoe ek dit soos die stukkies van 'n legkaart kan rangskik om uiteindelik 'n mooi prentjie te vorm. Dis immers R100. Maar tot my ontsteltenis was al die stukkies van die "R100-legkaart" nie meer daar nie. Die legkaart gaan ek nie gebou kry nie.
My twee honde het nader gestaan. Hulle het bang vir my gekyk soos beskuldigdes in 'n hofsaak wat eintlik klaar skuldig bevind is en wat net wag om hul vonnisse te hoor.
Veral die een hond, Bietjie, se liggaamstaal het haar weggee. Geraas het ek nie. Ek was baie meer geskok as Bietjie se naam.
Toe het ek desperaat weer probeer, maar steeds wou die legkaart nie vorm aanneem nie. Die R100 was daarmee heen. Geen waarde meer nie. Net opgefrommelde papier.
Na die voorval verlede week het ek baie gewonder hoe kon dit gebeur het. Uiteindelik het ek tot die slotsom gekom dat die R100 uit my sak geval het. Dit was my eie skuld. Wanneer ek aan my honde dink moet onthou word dat beide besonder vindingryk is en nie 'n halwe kans ontsien om 'n geleentheid te benut nie. Vir hulle was dit net 'n stukkie papier wat rondgelê het, en reg was om te kou.
Ek moet ook byvoeg dat hulle baie van "lees" hou en mens kan nie waag om 'n koerant op die sitkamervloer te laat nie. Hulle "lees" natuurlik baie rof en as hulle klaar "gelees" het kan niemand anders meer die koerant lees nie.
In die ure en dae wat na die voorval gevolg het, het ek baie besin. In die proses het ek baie van myself geleer. Interessant hoe 'n mens se brein so-iets hanteer. Daar was verskillende fases. Woede. Rasionalisering, "Ag dis mos nie so erg nie. Dit kon erger gewees het."
Die meeste mense sal seker saamstem dat in vandag se tye is R100 baie geld. Ja, daar is mense wat sal verskil, maar in my beursie is R100 baie geld.
Ek het gaan dink oor wat ek alles met 'n R100 kan doen. Baie mense en instansies sou ek kon help met daardie R100.
Dalk ietsie te ete vir byvoorbeeld die ou gryskop oom wat gewoonlik daar in my omgewing op die hoek by die skool sit met sy kierie en vriendelik waai as ek soggens daar verbyry op pad werk toe. Ek weet nie wat sy naam is nie, maar ek noem hom sommer oom Charlie. (Hoekom ek nog nie gestop het en met hom gesels het nie, weet ek nie. Nou sal ek).
- Of wat van 'n paar bekertjies sop vir die mense wat saans op straat hul "voordeur" toetrek en gaan slaap.
- Of dalk 'n paar komberse vir die diere by die DBV en Odin vir die winter wat besig is om nader te kruip.
- En dalk 'n lottokaartjie vir myself. As die nommers reg is, sal my hele lewe verander.
Ek het ook gaan dink oor my honde. Mense wat my goed ken weet hoe ek voel oor honde. As ek op 'n plek kom en daar is honde, gaan stel ek my altyd voor aan hulle. Hulle is my beste vriende.
Die skade is in my verwysingsraamwerk groot, maar dit het my opnuut laat besef hoe mens waarde meet. Weliswaar het my honde nou nuwe betekenis gegee aan die uitdrukking "lief vir geld" en hulle is nou "R100-honde".
Natuurlik is geld belangrik, maar daar is dinge wat nie met geld gekoop kan word nie.
Wanneer jy later vandag die vonkeling in die oë van 'n geliefde soos jou kind sien of as jou geliefde kat of hond op jou skoot by die huis spring. Of as die papegaai fluit as jy die voordeur oopsluit. Of as die hasie nuuskierig naderstaan as hy/sy jou stem herken. Dan sal jy weet wat is baie meer werd as R100 of selfs enige geld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’