GEORGE NUUS - Onwettige storting is enige iets wat jy weggooi in ‘n plek waar dit nie hoort nie.
Storting is almal se probleem
As jy jou gemors sommer enige plek weggooi sal dit uiteindelik op een of ander manier jou probleem word.
Dit kan jou siek- of doodmaak
- Gestorte rommel het baie keer gif, ou medisyne, gebreekte glas en ander gevaarlike goed in wat veral vir kinders en diere ‘n gevaar kan inhou.
- Gemors wat in die son lê en bak ontwikkel giftige gasse en bakterieë wat siektes en infeksies kan veroorsaak wat jou siek of selfs dood kan maak.
- Plekke waar rommel lê lok slange, skerpioene, rotte en insekte wat gevaarlike siektes aan mense kan oordra.
- Rommel wat in of naby riviere gegooi word, laat slegte goed in die water vry wat mense en diere stroom-af so siek kan maak dat hulle van uitdroging en koors kan laat doodgaan.
Dit kan brande veroorsaak
Rommel wat in die son bak kan so warm word dat dit aan die brand kan slaan en na huise toe kan versprei. Die rook en gasdampe wat van sulke vure af kom kan skadelik of selfs dodelik wees.
Dit kan sleg stink
- Goed wat in riooldreine gegooi word – of verkeerde goed wat in toilette afgespoel word - sal die dreinpype verstop en die riool sal in jou woongebied oorloop.
Dit kan verspoelings veroorsaak
- Gemors wat in stormwaterdreine gegooi word, verstop die pype en reënwater sal in die gebied se strate en eiendom invloei.
Onwettige storting mors geld
- Die skoonmaak van onwettige stortingsterreine mors geld wat vir ander dinge in jou gemeenskap gebruik kon word.
Stortingsterreine bring die waarde van jou eiendom af
As jy eiendom naby onwettige stortingsterreine besit, sal dit moeiliker wees om dit te verkoop en sal die oorhoofse waarde van die eiendom verminder.
Jy kan tronk toe gaan
As jy gevang word vir onwettige storting of selfs rommelstrooi, kan jy ‘n boete opgelê word. Indien jy nie die boete kan betaal nie, kan jy tronk toe gaan. Daar word oorweeg om maatreëls in plek te sit, soos versteekte kameras, om mense te vang wat in die nag onwettig rommel stort.
JY KAN ‘N VERSKIL MAAK
Moenie rommel strooi nie
Hou jou kospakkies, sigaretstompies en ander gemors by jou totdat jy by ‘n asblik uitkom en gooi dit in die blik of hou dit tot by die huis waar jy dit in die regte plek kan weggooi.
Hou jou vullis by die huis tot en met opteldag
- Vullis word een keer per week in jou woonbuurt opgetel (sien skedule hieronder). Plaas jou vullis in vullissakke en hou die sakke by jou huis tot en met opteldag.
- Plaas tuinafval in groen sakke sodat dit afsonderlike opgetel kan word vir komposmaking.
- Plaas vullissakke op die sypaadjie buite jou huis teen 07.30 op opteldag.
- Om te verhoed dat sakke oornag stukkend geskeur word, moenie jou sakke die aand voor die tyd uitsit nie.
Vind jou optelpunt
- As jy in ‘n gebied bly waar vullistrokke te groot is om tot by jou huis te ry, vind by jou raadslid of die gemeenskap uit waar die naaste optelpunt is. Op opteldag ry bakkies in hierdie gebiede in en tel by hierdie punte op.
- Indien daar nie ‘n optelpunt binne redelike loopafstand van jou woonplek is nie, vra jou raadslid om by omgewingsdienste vir so ‘n plek aan te vra.
Maak dit toe
- Probeer om jou vol vullissakke in iets met ‘n deksel – soos ‘n sterk kartonboks, houtboks of baksteenstruktuur – toe te maak om slegte reuke in te hou en diere uit te hou.
Maak ‘n plan met die groot goed
- Boumateriaal en items wat nie in swart sakke pas nie, moet na die munisipale stortingsterrein op die R102 (lughawepad) geneem word. Reël met vriende of bure om julle groot goed saam in een rit te neem.
Dooie diere
- Moenie dooie diere saam met vullissakke uitsit of iewers gaan weggooi nie.
- Die Tuinroete DBV sal die karkas kom optel en korrek ontslae raak vir ‘n fooi. Skakel 044 878 1990.
- Meld dooie diere op die N2 by Sanral aan by 082 553 4878.
Rapporteer onwettige storting
- Indien jy weet wie onwettig stort, rapporteer hulle by 044 801 6350 of sprins@george.gov.za of 044 801 6300 (n/u).
- Inligting wat die saak vir ‘n waarskuwing of boete sal versterk: beskrywing van die voertuig en/of registrasienommer, adres van die beweerde oortreder, tipe afval wat gestort is en waar dit gestort is. ‘n Selfoonfoto van die storting in aksie sal baie help maar is nie noodsaaklik nie.
- Meld onwettig storting aan by 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
Opteldae vir vullissakke
Maandag: Blanco, Riverlea, Heatherpark, Heatherlands, Glen Barrie, Kraaibosch, Groenkloof, Blue Mountain Village, Heroldsbaai, Victoriabaai, Rondevlei-gebied (George-kant)
Dinsdag: Lê Vallia, Rosemoor, Conville, Proteapark, Parkdene, Ballotsview, Borcherds, Lawaaikamp, Thembalethu, Wildernis, Constantia Kloof, Kleinkrantz
Woensdag: Camphersdrift, Fernridge, Denneoord, Bo-Dorp, Blommekloof, Tweerivieren, Hoogekraal, Hoekwil, Touwsranten plaasgebiede
Donderdag: Wildernishoogte, Dormehlsdrift, George-Suid, Le Grand, Bos en Dal, Groeneweidepark, Sinksabrug, Herold, Geelhoutboom, Eselsjacht, Hansmoeskraal, Jonkershoek, Rooirivierrif, Pacaltsdorp, Rosedale, Waboomskraal, Touwsranten dorpie
Vrydag: Glenwood, Loeriepark, Eden George, Genevafontein, Denver Park, Bergsig, Oostelike Uitbreidings
Besighede: Maandag, Woensdag en Vrydag
Vinnige nommers:
- Meld onwettige storting by Wetstoepassing aan: 044 801 6350 of 044 801 6300 (n/u).
- Meld plekke waar daar onwettig gestort is by Omgewingsdienste aan: 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
- Vir dooie diere, skakel DBV: 044 878 1990
- Dooie diere op die N2, skakel Sanral: 082 553 4878.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'