Gallery
GEORGE NUUS - Dis 'n wonderwerk dat Waboomskraal nie afgebrand het nie. So beskryf inwoners van die hoofsaaklik landbougemeenskap hoog op in die Outeniquaberge tussen George en Oudtshoorn, die onlangse brande.
Ofskoon dit wil voorkom of die meeste brande in die Tuinroete nou onder beheer is, was daar Dinsdag nog steeds 'n brand in die gebied. Van die inwoners het gesê dit is deel van 'n brand wat oorgespring het van Jonkersberg. Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het egter gesê 'n beheerde brand is Maandag aan die suidekant uitgevoer. Dit is gedoen om die vuur wat nog die hele tyd smeul te stop.
Volgens hom was die situasie onder beheer en nooddienste en brandbestrydingspersoneel was op die toneel. 'n Inwoner wat verkies om anoniem te bly, het gesê die brand was teen Dinsdagoggend nog aan die gang. Dit is 'n brand wat van Jonkersberg oorgespring het en sover vasgestel kon word, is dit deur donderweer veroorsaak.
Dit is nie deel van die oorspronklike brand wat op 24 Oktober by Herold begin het nie. Die brand het oor die Outeniquaberge na George versprei. Dit het toe later weer teruggebrand na Waboomskraal.
Martie de Jager, bestuurder van Highlands Lodge, het gesê inwoners in die gebied is deur 'n baie moeilike tyd.
Nooddienste en brandbestryders het 'n groot rol gespeel om die brande onder beheer te bring. Sonder die hulp van die boere in die gebied, sou hulle dit egter nie reggekry het nie.
"Die liewe Here het Sy arms oor Waboomskraal uitgesteek. Die plek moes eindelik nie bly staan het nie."
By tye het dinge erg gegaan. Op Sondag 4 November moes hulle by Highlands Lodge ontruim. Dit was dieselfde as minder as 'n week vantevore.
Van die brandbestryders het nie gedink die plek sal bly staan nie. "Dit was 'n wonderwerk dat die plek nie afgebrand het nie. Met die genade van die Here het die plek gestaan."
Gisela Weinmann, eienaar van Plattekloof 131, het gesê waterpype en die Telkomlyne is beskadig. In 'n stadium was die Eskomlyne ook in die gevaarsone.
Brandskade aan die plaas Plattekloof 131 in Waboomskraal. Woonhuise het gelukkig staande gebly en is nie beskadig nie.
Die brand op 4 November was 'n massiewe brand. Die brand het in sommige gevalle tot so naby as 'n halwe meter aan van die huise op die plaas gekom. Dit het rondom die huise gebrand. "Dit lyk of die Engele ons beskerm het."
Sy het groot lof gehad vir die nooddienste en brandbestryders se optrede.
Deon Barnard, eienaar van 'n plaas in Waboomskraal, het gesê hy is gebore en het grootgeword in die gebied. "Oor die jare het ek al baie brande beleef. Hierdie was die ergste."
Die wind het 'n groot rol gespeel en daar was ook baie droë plantmateriaal soos indringerplante wat gewag het om te brand.
Barnard het 'n koördineringsrol met die boere gespeel. Wat vir hom uitstaan is die jong boere en werkers wat almal bereid was om te help. Hulle het almal vinnig en goed saamgewerk. Die jonger manne het ook baie geleer van brandbestryding.
Hy het al die brandbestryders en instansies bedank vir hulle hulp. Wat ook 'n riem onder die hart was, was die mense, wat selfs van ander plekke soos byvoorbeeld Oudtshoorn eet- en drinkgoed aangery het vir die mense wat betrokke was by die brandbestryding.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'