Voorbrand word reeds gemaak. Foto: Lyndall Mgadle.
GEORGE NUUSFLITS - Ons het pas verneem dat ‘n skuur op Die Bof, die familieplaas van die bekende Gericke-familie, afgebrand het. Die skuur het ‘n trekker en ander duur implemente in gehad.
Die Bof is die familieplaas van George-legende, Tannie Greta Gericke. Hulle pak onder andere groente vir Woolworths.
Die wind het blykbaar gedraai en waai nou van die see se kant af. Dit bedreig die res van die plaas.
In Wilderness het 4 huise reeds afgebrand, maar die brandweer kon daarin slaag om ‘n vyfde een te red.
Volgens Gerhard Otto, hoof van Eden-rampbestuur, sal die vure dwarsdeur die nag gemonitor word.
Twee helikopters is vandag gebruik om die vure te blus, maar moes teen 17:55 ophou omdat dit te donker begin word het. By tye het die windspoed tot 55km/h bereik.
Voorbrand word tans in die Wilderness-omgewing gemaak om die vuur in te seël.
Opruimingswerk sal vroeg môreoggend, Vrydag 12 Augustus, begin.