Gallery
GEORGE NUUS - Vrouwees is Saterdag 15 September luisterryk deur 550 dames tydens Outeniqua Dames Aktueel se jaarlikse groot Vrouedag gevier.
Outeniqua Hoërskool se begaafde jazzband met Kerwin Albertus as solis het die oggend met die Hallelujah geopen.
Die gaskunstenaars, Johan Rademan, Christo Snyman en Beyers Truter het die dames op ‘n musikale woordreis weggevoer met heerlike wynproe as bonus.
Die alombekende hartsgunsteling Pedro Kruger met sy kostelike verhoogspersoonlikheid het die dames laat skaterlag tydens sy Klavierkuier waarin hy sy lewe in ‘n neutedop met ons gedeel het en die mense wat 'n groot invloed op h om gehad het - sy formidabele pa, dramatiese ma, en sy wonderlike ouma wat wou weet: Is jou eerlikheid ‘n salf of ‘n mes? So moes Pedro jare lank in ‘n toe motor in die garage blokfluit oefen omdat sy suster dit nie kon vat nie!
Die gasspreker, Yolande Korkie, wat saam met haar man, Pierre, 558 dae in Jemen deur Al-Qaeda-terroriste as gyselaars aangehou is, het met haar vergewensgesindheid en wonderlike liefdevolle geaardheid en sagte woorde elkeen diep geraak. Hulle was van alles gestroop - kinders en klere. Hulle moes slaap op die grond en het bitter min kos gekry.
Hulle skryf Bybelversies neer, bid, raak gefrustreerd, woedend vir God dat Hy dit toelaat totdat sy besef dis God se vingerafdrukke in hulle lewe en dat hulle vir die terroriste moes bid - , wat baie moeilik was.
Daarna word sy vrygelaat, maar Pierre se liggaam kom op 4 April 2015 op sy verjaarsdag hier aan. Volgens Yolande bly die pyn, maar vergifnis is die essensie van jou geloof; dus, identifiseer die terroris in jou lewe, vergewe hom/haar, bid vir hom/haar, en dra geloofsvrugte.
Ons is ook bederf met 'n vingerlek lekker middagete en kon snuffel tussen pragtige uitstallings.
Dames Aktueel sê baie dankie aan al ons borge en elkeen wat bygedra het tot ‘n ongelooflike suksesvolle Vrouedag.
Artikel: Louie Meyer
Kontakpersone: Magdaleen Smook 044 873 6568 / 074 977 1986
Louie Meyer 044 874 6523 / 084 525 2130
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'