GEORGE NUUS - 'n Nuwe instansie, Team Strong Women (TSW), wat hulle beywer om vroue op te hef en te bemagtig het Saterdag 15 Mei hul eerste groot saamtrek in Conville gehou. As gevolg van Covid-19-regulasies kon net 'n beperkte hoeveelheid vroue dit bywoon.
Linda Smit, stigter en leier van TSW, het Dinsdag gesê dit het reeds op 10 Augustus 2020 tot stand gekom. Dit was 'n dag na Vrouedag. Volgens haar is die doel om uit te reik na verskillende gemeenskappe en veral vroue op te hef.
"Dis nie 'n kerkinstansie nie. Dit is daar om stukkende vroue te help. Ons gemeenskappe is gebroke en ons vroue kan 'n rol speel om te help.
"Vroue kan 'n verskil in mense se lewens maak. Wanneer vroue bymekaar-kom, is dit soos 'n vulkaan van krag wat deurbreek."
Sy weet waardeur vroue gaan. Daar was 'n tyd in haar lewe wat sy selfmoord wou pleeg en niemand haar wou help nie.
"Met die hulp van die Here kan ons baie vroue bereik en so 'n verskil in ons gemeenskappe maak."
Sy het 'n beroep op vroue gedoen om op te staan uit hul situasie en betrokke te raak.
TSW het verskeie projekte in die pyplyn waaronder 'n biddag vir ouers wie se kinders in dwelms vasgevang is.
Instansies is welkom om hulle te nooi vir toesprake en bemoediging. Kontak Smit by 078 180 5909.
Van die vroue wat Saterdag Team Strong Women (TSW) se eerste saamtrek bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'