Gallery
GEORGE NUUS - Die polisie se vrouenetwerk verbonde aan die operasionele reaksiespan het Donderdag 22 Augustus, as deel van Vrouemaand, padblokkades op die N2 tussen die Garden Route Mall en Thembalethu gehou.
Vroue van oor die Wes-Kaap het aan hierdie inisiatief deelgeneem.
Hulle het ook by Laerskool New Dawn Park gaan inloer waar hulle sanitêre doekies en toiletware aan die meisies by die skool uitgedeel het voor hulle die bejaardes by Rosemoor-tehuis vir bejaardes met komberse bederf het.
Die groep vroue het ook klere aan Mosselbaai-munisipaliteit se maatskaplike dienste-afdeling, wat vir minderbevoorregtes geoormerk is, oorhandig.
Die groep vroue het by Laerskool New Dawn Park sanitêredoekies en toiletware uitgedeel. Saam met die hoof- administratiewe klerk van die polisie se vrouenetwerk, Nelly Mlangeni (vierde van links), staan die skool se onderhoofdogter, Shaydene Lucas (heel links), luitenant-kolonel Boniswa Mpato (George), waarnemende skoolhoof, Ruth Miller, en Nayree Pondo, hoofmeisie van Laerskool New Dawn Park.
Luitenant-kolonel, Moniswa Mpato, Haylene Claassen, Nelly Mlanjeni en Lucinda Piedt was deel van die groep vroue wat klere vir minderbevoorregtes uitgedeel het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'