OUDTSHOORN NUUS - Die formele borgtogaansoek van Felicia Afrika, die 24-jarige vrou wat verlede Sondagoggend vir die opspraakwekkende moord op Boutros 'Boelie' May (29) in hegtenis geneem is, is tot Vrydag 17 Februarie uitgestel.
May was ten tyde van sy ontydige dood 'n geliefde lid van die Oudtshoorn- gemeenskap en ook 'n baie gewilde rugbyspeler wat sedert sy skooldae reeds vir Bridgton-rugbyklub uitgedraf het.
Dié tragiese voorval het Sondagoggend, 12 Februarie, net na 00:00 voor die Pasella-gebou in Adderleystraat plaasgevind na 'n onderonsie waarin May noodlottig met 'n skerp voorwerp gesteek is. Afrika is 'n paar uur na die moord deur die polisie in hegtenis geneem.
By navrae het die polisie aangedui dat May diep in sy skouer gesteek was waarna hy 'n paar uur later by die hospitaal oorlede is.
'n Ooggetuie het op voorwaarde van anonimiteit aan Oudtshoorn Courant gesê dat May aanvanklik nie deel was van die argument wat sy lewe geëis het nie.
Borgtog-petisie
Leon Campher, bekende gemeenskapswerker, aktivis en lid van Dysselsdorp Advieskantoor, het intussen op sosiale media aangekondig dat die gemeenskap, familie en vriende van Boutros 'n versoek aan die hof gaan bring dat borgtog aan Afrika geweier word.
Volgens Campher word daar 'n plakkaatbetoging Vrydag (môre) voor die hof beplan waar 'n memorandum met 'n petisielys oorhandig sal word.
Na afloop van die hofverrigtinge sal die betogers 'n kranslegging in Adderleystraat voor die Pasella-gebou hou op die toneel waar die tragiese voorval plaasgevind het.
Boutros was 'n baie gewilde rugbyspeler wat sedert sy skooldae reeds vir Bridgton-rugbyklub uitgedraf het.
Lees meer by susterskoerant: www.oudtshoorncourant.com
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'