GEORGE NUUS - Eva Erasmus, 'n inwoner van Rosemoor, is ongelukkig oor 'n vals positiewe Covid-19-toetsuitslag wat sy ontvang het terwyl sy in die George-hospitaal was. Dit het daartoe gelei dat haar bure en selfs familie haar vermy, kla sy.
Terwyl sy in die hospitaal was, is 'n span mense gestuur om haar huis te ontsmet. "Die bure het dit gesien en almal weet wat dit beteken. Nou word ek selfs name toegesnou."
Sy is op Woensdag 5 Augustus in die hospitaal opgeneem nadat 'n ambulans haar tuis in Rosemoor gaan haal het omdat sy ongesteld begin voel het. Daar is sy vir Covid-19 getoets en na saal A1, vir Covid-19-pasiënte, geneem waar dit net sy in die saal was, vertel sy.
"Ek is vir twee aande in die hospitaal gehou. Ek is die Donderdag ingelig dat die uitslag positief was, maar Vrydag deur die dag moes ek hoor dat ek nie Covid het nie en ek is die aand ontslaan. Ek is nou in 'n ongemaklike situasie. Mense vermy my. Hier kom niemand meer aan huis kuier nie."
Sy sê sy is ook onseker waarvoor die medikasie is wat sy by die hospitaal ontvang het.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het gesê Erasmus se toetse is deur die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NGLD) gedoen.
"Dit is waar die administratiewe fout ingekom het wat verkeerde resultate gestuur het. Dit is nie 'n fout wat begaan is by George-hospitaal nie. Die kliënt is wel later gekontak om die korrekte uitslag deur te gee.
"Ons is jammer om te hoor van die kliënt se ervaring, asook dat daar nog steeds stigmatisering in ons gemeenskappe is."
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'