GEORGE NUUS - Na amper 11 jaar kan Katriena Appels van Touwsranten weer voortgaan met haar lewe nadat sy verkeerdelik dood verklaar is. Die fout is die afgelope week eers reggestel, vertel 'n verligte Appels met trane van blydskap.
Na jare se op en af en van bakboord na stuurboord, het die nasionale kantoor van binnelandse sake uiteindelik haar status verander. Appels het haar tot George Herald gewend omdat sy raadop was.
Sy kon nie werkloosheidstoelaag trek nie en kon nie op enige lewensversekeringsgeld aanspraak maak na haar man se dood nie.
"Ek kon nie eens Sassa trek vir my kinders nie. Ons het so gesukkel om by te bly, want mense glo my nie en ander amptelike departemente kon my nie help nie."
Dis Appels se status by departement van binnelandse sake. Dit wys sy is in 2010 dood verklaar.
Appels was selfs by George se arbeidskantoor, waar sy stert tussen die bene moes terugdraai omdat hulle niks vir haar kan doen nie. Oral moes Appels in persoon opdaag as bewys dat sy lewe en steeds is sy nie gehelp nie omdat te veel mense bedrog pleeg.
Na George Herald se navraag aan die nasionale departement van binnelandse sake, het dit aan die lig gekom, dat geen klagte hul hoofkantoor bereik het nie. Haar klagtes oor die jare heen en navrae by die plaaslike kantoor, het blykbaar nooit die nasionale kantoor bereik nie.
George Herald se navraag aan binnelandse sake het vir weke ontbeantwoord gegaan, maar in 'n gesprek met 'n amptenaar by die hoofkantoor blyk dit daar is reeds tien jaar gelede, met haar eerste navrae, 'n regstellingsbrief na George gestuur.
Niemand kon amptelik verklaar hoekom dit nooit hier uitgekom het nie en hoekom die regstelling nooit gemaak is nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'