GEORGE-NUUS - ‘n Spirituele geneser van George het ver-lede week in die hof verskyn vir moord nadat hy glo duiwels uit ‘n jong vrou pro-beer dryf het.
Zine Mabukwana (21) van Delft, Kaapstad het Christoffel Ncicana (49) van Heatherpark by sy tent op ‘n kleinhoewe buite Thembalethu op 10 April besoek.
Mabukwana het in Februarie siek geword toe sy ‘erg begin bewe het’ en probleme met haar geheue en spraak ervaar het.
Sy en haar familie het na bewering geglo dat demone haar liggaam oorgeneem het en haar ma, Nozukile, het haar na Ncicana gebring vir genesing.
Volgens die polisie het die verdagte tydens twee intense bidsessies herhaaldelike kere op Mabukwana se maag getrap in sy pogings om ‘die demone uit haar uit te dryf’.
Ná die tweede keer het sy gehuil, stil geword en kort daarna in haar ma se arms buite die tent gesterf.
Die vermoede is dat die trappery ernstige inwendige beserings veroorsaak het wat tot haar dood gelei het.
Ncicana is op R1 000 borgtog vrygelaat en verskyn op 3 Mei weer in die Thembalethu-landdroshof.
Intussen stroom die mense steeds van heinde en ver in groot getalle na die tent waar die ‘genesing’ plaasvind sodat Ncicana vir hulle kan bid vir onder meer gesondheid, voorspoed, geluk en rykdom.
Mense wat van Ncicana se dienste gebruik maak, betaal vermoedelik tussen R150 en R200 ‘n afspraak.