Update
TUINROETE NUUS - Honderde roubeklaers het Elma en Trevor Davis se gesamentlike begrafnisdiens vanuit die NG Kerk Mosselbaai-Suid op Saterdag 20 April om 11:00 bygewoon. Suid-Afrikaanse sportlui kom steeds tot verhaal na die tragiese dood van Trevor (67), 'n bekende in rolbalkringe wat glo sy Protea-rolbalspeler vrou, Elma (52) met 'n dubbelloop 12-boor-haelgeweer doodgeskiet het voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.
Die voorval het by die egpaar se woning in die Fijnboschpark-woonkompleks op 14 April om ongeveer 17:00 gebeur.
Niemand weet wat aanleiding gegee het tot die skokdaad nie. Vriende van die egpaar het aan Mossel Bay Advertiser, George Herald se susterkoerant, gesê Trevor het geweldig hard gewerk en was onder druk. Hy kon glo nie sonder Elma lewe nie.
Die begrafnisdiens is gelei deur ds. Gerdrie van der Merwe en hy het uit Jesaja 55:8 voorgelees.
In die begrafnisbrief skryf Elma se ma, Naomi, broers en susters: "Skielik en sonder afskeid, is van ons weggeneem ons geliefde Trevor en Elma. Hulle plek sal leeg wees in die harte van elkeen wie hulle geken het, maar ons berus daarby in die wete dat God oor ons sal skyn."
Trevor en Elma se liggame is deur polisie gevind, nadat 'n buurman skote gehoor het. Die huis se deure was gesluit en moes oopforseer word. Die egpaar is in hulle slaapkamer op die vloer gevind. Trevor het 'n kopwond gehad en Elma 'n kop- en beenwond.
Geen selfdoodbrief is gevind nie.
Die moord- en selfdood volg kort nadat die paartjie 'n rolbaltoernooi in Port Elizabeth bygewoon het. Elma sou binnekort na Wallis vertrek waar sy Suid-Afrika in 'n rolbaltoernooi sou verteenwoordig.
Die polisie op Mosselbaai het 'n geregtelike doodsondersoek dossier geopen. Die egpaar se drie hondjies, bly na wat verneem word by Elma se ma. Die egpaar het nie saam kinders nie en die honde was tydens die voorval by Naomi.
Die nadoodse ondersoekverslag was nog nie teen saktyd beskikbaar nie.
Lees vorige artikels:
- Rolbalbekendes se dood skok sportlui
- Update: Protea bowler killed with shotgun
- Bekende in rolbalkringe skiet vrou, toe self
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'