Update
MOSSELBAAI NUUS - Suid-Afrikaanse sportlui is geskok oor die tragiese dood van Trevor Davis (67) 'n bekende in rolbalkringe wat na wat verneem word sy Protea-rolbalspeler vrou, Elma (52) met 'n dubbelloop 12-boor-haelgeweer doodgeskiet het voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.
'n Buurman het die Mosselbaai-polisie gebel nadat hy op Sondag, 14 April om ongeveer 17:00 geweerskote by die egpaar se woning in die Fijnboschpark-woonkompleks, 17de Laan gehoor het.
Polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer sê met hulle aankoms by die woning was al die deure gesluit.
Die brandweer was ook op die toneel en het die polisie gehelp om 'n deur van die egpaar se woning oop te forseer. Polisiebeamptes het die huis deursoek en op liggame in die hoofslaapkamer afgekom. Beide het met skietwonde op die vloer gelê en is op die toneel dood verklaar. Die polisie het beslag gelê op 'n haelgeweer.
Trevor was 'n lid van die uitvoerende bestuur van Rolbal Suid-Afrika, lid van verskeie komitees van Wêreld Rolbal en 'n voormalige president van Eden-rolbal.
Elma was veronderstel om Suid-Afrika tydens 'n wêreldwye toernooi in Wallis te verteenwoordig en sou oor 'n maand daarheen vertrek.
Die Davis-egpaar het met verskeie prestasies in die sportwêreld gespog en Elma het Suid-Afrika by onder meer die Statebondspele verteenwoordig, waar Trevor ook al voorheen as rolbalskeidsregter opgetree het.
Intussen het Eden Rolbal se president, Jenny Sinclair haar skok oor die voorval uitgespreek.
"Ons weet nie wat verkeerd geloop het nie. Hulle dood is 'n massiewe verlies vir nie net die familie nie, maar ook vir die rolbalwêreld. Hulle was 'n populêre paartjie en welbekend."
Die egpaar het in die Fijnboschpark-woonkompleks gebly.
Lees vorige artikels:
- Update: Protea bowler killed with shotgun
- Read a previous article: Bekende in rolbalkringe skiet vrou, toe self
'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Tuinroete, Karoo nuus'