GEORGE NUUS - Die vreugdevure brand hoog in die PA-geledere van George nadat die party Woensdag 14 Februarie die munisipale tussenverkiesing in wyk 8 Parkdene oorweldigend gewen het.
Samuel Vorster van die PA het 1 272 stemme gekry wat byna dubbel soveel is as die 671 stemme van David Willemse van die DA.
Derick Petersen, leier van die PA in die Tuinroete, het aan George Herald gesê daar is hoofsaaklik drie redes waarom die party gewen het.
Eerstens is daar die DA se swak rekord van dienslewering in sogenaamde bruin wyke. Die kiesers het hulle gestraf.
Voorts spog die DA oor sy vertoning in sogenaamde wit wyke waar dienste eintlik van hoogstaande gehalte is. Almal betaal belasting en nie net sekere groepe nie.
Dan is daar ook die PA se enorme groei onder die jeug. "Ons het hulle gekry om vir ons te stem."
Hy het benadruk dat dit nou die PA se mikpunt is om nog wyke van die DA af te neem. Dis nie onmoontlik dat nog tussenverkiesings gaan plaasvind nie. "Dis is net die begin van groot dinge."
'n DA-lid wat verkies om anoniem te bly het gesê daar moet in gedagte gehou word dat dit 'n tussenverkiesing was.
"Die DA neem kennis van die boodskap wat die kiesers vir ons gestuur het."
Hy het gesê beloftes is in die verkiesingsveldtog gemaak wat nie uitgevoer kan word nie.
"Geen munisipaliteit kan toelaat dat daar nie vir dienste betaal word nie."
Hy het bygevoeg: "Die DA sal hard werk om die vertroue van die kiesers weer terug te kry. Die DA in George onderneem om nie voorafbetaalde watermeters te installeer nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’