Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Motoriste wat versuim om voetgangers by voetoorgange voorkeur te gee, kan tot R2 000 beboet word. Só sê die direkteur van beskermingsdienste, Steven Erasmus.
Hy sê hulle kan in hierdie stadium nie verkeersbeamptes afstaan om voetoorgange deurlopend te patrolleer nie, maar dat verkeersdienste wel voetoorgange sporadies sal besoek.
Dit kom na aanleiding van talle onlangse klagtes deur ontstoke lesers wat voel dat motoriste doodeenvoudig die voetoorgange verontagsaam.
"Sommige stop, maar die meeste doen nie. Wanneer 'n motor wel in die een baan sal stop, ry die karre in die ander baan jou amper plat," sê Kelly Hector wat naby die voetoorgang by die landdroshof aan die bopunt van Yorkstraat werk.
Sy meen dit is net 'n kwessie van tyd voor iemand daar doodgery word. "Motoriste gee nie 'n duit vir die voetgangers wat op die regte plek die pad wil kruis nie. Hulle ry net eenvoudig."
Ouers van leerders in verskeie skole het ook die George Herald gekontak met soortgelyke klagtes. Hulle is dit eens dat daar binnekort 'n kind raakgery gaan word en voel dat plaaslike verkeer meer kan doen ten opsigte van die algemene verkeersprobleme by skole deesdae.
Volgens 'n leser word die voetoorgang aan die bo-punt van Yorkstraat naby die hof, gereeld deur motorriste verontagsaam. Volgens haar word voetgangers se lewens in gevaar gestel wanneer hulle die pad hier wil oorsteek.
Wat sê die reëls
"Sodra ‘n voetganger sy voet op die voetoorgang plaas om aan te dui dat hy/sy oor die pad wil beweeg, moet alle voertuie by die voetoorgang stop," sê Erasmus.
"Indien dit ‘n dubbelbaan is, mag voertuie nie om stilstaande voertuie by die voetoorgang beweeg nie."
Motoriste hoef egter nie by 'n voetoorgang te stop as daar niemand is wat aandui dat hulle die pad wil oorsteek nie.
Druk verkeer in die oggend by die verkeersligte waar Courtenay- en Wellingtonstrate kruis. Volgens ouers met kinders in Voorbereidingskool George is dit 'n nagmerrie om hul kinders veilig oor die pad tot by die skool te kry. "Ek verstaan dat mense haastig is om by die werk te kom, maar dis 'n kwessie van tyd voor 'n kind raakgery word hier. Jy moet letterlik oor die pad hardloop met 'n kind of twee aan die hand en hoop 'n kar ry julle nie om nie," het Wessel van Heerden aan die George Herald gesê.
Raad aan voetgangers van Arrive Alive
Dit is altyd veiliger om die pad by 'n voetoorgang oor te steek, maar moenie altyd van motoriste verwag om vir jou stil te hou nie.
Stop en kyk vir voertuie en maak seker die verkeer stop voor jy die pad oorsteek. Moenie hardloop nie, maar loop vinnig.
Volgens 'n leser word die voetoorgang aan die bo-punt van Yorkstraat naby die hof, gereeld deur motorriste verontagsaam. Volgens haar word voetgangers se lewens in gevaar gestel wanneer hulle die pad hier wil oorsteek. Foto: Kristy Kolberg
Kyk 'n video hieronder:
* Motorists who fail to adhere to pedestrian crossings can be fined by up to R2 000. That's what the director of protection services, Steven Erasmus says. He says that at this stage they can not afford traffic officers to continuously patrol pedestrian crossings, but traffic services will sporadically patrol them. This comes as a result of many recent complaints by readers who feel that motorists simply ignore pedestrian crossings across town.
'We bring you the latest George, Garden Route news'