GEORGE-NUUS - Soos in die verlede het die inwoners en besoekers aan George hulleself behoorlik verlustig in die kaas, wyn, oesters, olywe en baie ander produkte wat hulle gratis kon proe by 78 stalletjies tydens die naweek se George Vodashop Kaasfees.
Gelukkige feesgangers het die geleentheid gehad om bietjie slimmer te word tydens die sewe demonstrasiesessies oor onder meer whisky, brandewyn en wyn wat deur belese aanbieders aangebied is.
Geure het die saal gevul toe Ina Paarman Vrydag en Saterdag tydens haar stampvol sessies heerlike disse gedemonstreer het. ‘n Beïndrukte Paarman het gesê dat sy beslis weer betrokke wil wees by volgende jaar se fees.
Die volgende stalletjies is aangewys as die beste in die onderskeie afdelings:
Wyn: KWV
Kaas: Ladismith Kaas
Dubbel stalletjie: Wildebraam Likeurs
Kaasverwante produkte: International Deli van Gauteng
Beste restaurant: Top 2 Catering
Die feesdirekteur, Anna-lize Pretorius het almal wat betrokke was, bedank vir hulle harde werk tydens die fees: "Die komitee, wat uit vrywillige ouers bestaan, het soos een man saamgewerk."
Ander diensverskaffes soos The Housedoctor, Springbok Sekuriteit, Danie Nel Elektriese Kontrakteurs en Ultimum Services het die organiseerders bygestaan en gesorg dat die fees glad verloop het. "Weereens dank aan ons borge, verskaffers en donateurs wat hier-die fees moontlik gemaak het," sê Johan Smit, skoolhoof van Laerskool Outeniqua. "Ons loof ons feesgangers vir hul hartlike ondersteuning en hoop ons sien hulle almal weer in 2011."
Sien nog Kaasfees-foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=93&gid=5
Die Wildebraam-stalletjie was die wenner in die dubbel-stalletjie-kategorie.