GEORGE NUUS - Ongeveer 80 vroue van oor die Tuinroete-distrik word op Woensdag 1 Maart in George verwag vir die 89ste sirkelkonferensie van die Vroue-landbouvereniging (VLV) SWD.
Die George- en Blanco-takke bied die geleentheid by die Gereformeerde Kerk in Tweedestraat aan. Hul tema is 'Die uitdaging van verandering'.
VLV Kaapland se president, Estelle du Plessis, en die SWD-president, Elize Locke, is onder die sprekers.
Heinrich Terblanche, eertydse Arende-rugbyspeler kom ook praat met die vroue oor sy herstelpad nadat hy enkele jare gelede tydens 'n wedstryd verlam gelaat is.
Life Community Services se uitvoerende hoof, Maryna de Vries, sal meer vertel van die uitgebreide diens wat hulle organisasie lewer en Gerda Stols, bestuurder van die Tolhuis, sal gesels oor haar projekte.
Nog interessante aanbiedings in die Leefstyl- en Landbou- en Tuinbou-afdelings is op die program en volgens die sameroeper van die konferensie, Sanette Louw, word hoë gehalte handwerk van lede van oor die distrik beoordeel en uitgestal.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'