GEORGE NUUS - Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, het homself pas opnuut bewys as ‘n digter van formaat.
Sy gedig, Inventaris, het pas die eerste prys in die gedigte-kategorie in die Bloemfonteinse Skrywersklub se jaarlikse nasionale kompetisie vir digters en kortverhaalskrywers gewen.
Dit is die sesde keer wat hy sedert 2007 wegstap met ‘n prys in die grootste skrywerskompetisie in die land wat jaarliks meer as 1 000 gedigte en kortverhale ontvang.
Visser, ‘n onderwyser van beroep, was tussen 1989 tot 1992 skoolhoof in die Vrystaat. Daarna was hy vir tien jaar in die privaat sektor waar hy onder andere 'n kunsgalery en raamwinkel besit het. Hy is in 2002 weer terug onderwys toe en het die beroep in 2011 as skoolhoof by Laerskool Van der Hoven buite George verlaat en by die Oudtshoorn Courant aangesluit.
Volgens hom was kuns en skryf nog altyd deel van sy lewe. “Ek het vir jare geskilder en tussendeur altyd bietjie geskryf. In 2007 het ek met 'n gereelde Engelse rubriek vir George Herald begin," vertel hy. In 2007 het hy vir die eerste keer vir die Bloemfontein Skrywersvereniging se kompetisie ingeskryf, en sommer met die intrapslag ‘n derde plek in die kortverhaalkompetisie verower. Die kortverhaalkompetisie bestaan uit twee afdelings, naamlik gepubliseerde en ongepubliseerde skrywers, terwyl die gedigte-kompetisie oop is vir almal.
Hy het die kortverhaalkompetsie in 2013 gewen en terselfdertyd 'n tweede plek met sy gedig behaal. Die spesifieke gedig is een van sewe wat verlede jaar in die bundel Nuwe Stemme 6 van Tafelberg Uitgewers, ingesluit is. Die sewe gedigte kom uit die reeks 1967 wat tans by uitgewer is vir keuring.
“Ek wil gedigte skryf wat vir gewone mense toeganklik is en sodoende die mite dat digkuns net vir ‘n klein groepie geleerde mense bedoel is, verkeerd bewys.”
Hy neem graag deel aan hierdie kompetisie omdat dit as aansporing dien om te skryf. “Dit gee ‘n mens ‘n rede om kreatief te skryf. Ek probeer om met my gedigte ‘n hele storie met die minste moontlike woorde te vertel, en ek wil hê mense moet ‘n verandering in hul gemoedstoestand ervaar wanneer hulle een van my gedigte lees.”
Die prysuitdeling vind op 25 Augustus in Bloemfontein plaas. Deel van die prys is ‘n slypskool wat vanjaar deur Dana Snyman aangebied word.
Visser bied self werksessies en praatjies oor die skryf van gedigte en kortverhale aan. Kontak hom by 083 467 1522 vir meer inligting.
Hier is sy wengedig vir die 2018-kompetisie:
Inventaris
Kamer: 33
Datum: 13 / 4 / 2018 (Vrydag)
een bed (enkel)
een bedmatras (enkel)
een kussing
een bedkassie met laai (leeg)
een brilhouer (leeg)
een drinkglas
een piering
een gideonsbybel
een bedmatjie (blou en wit)
een pantoffel (pienk)
een tafel (hout)
een stoel (hout)
een draagbare radio (sony)
drie tydskrifte
een boks snesies (wit)
een snippermandjie (blik)
een enkeldeur hangkas
vyf klerehangers
een rooi rolstoel (leeg)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'