GEORGE NUUS - Die Vriende van die Tolhuis saam met die George-museum bied op Saterdag 23 September 'n heerlike ontbyt en praatjie oor die geskiedenis van hout in die Suid-Kaap aan.
Almal kom reeds tussen 07:00 en 08:30 bymekaar by die museum se houtuitstallings agter die biblioteek.
Besprekings is noodsaaklik.
Fikse stappers en Voortrekkers van Laerskool Blanco gaan dan die bakens op die ou Cradockpas verf. Hierdie pas is alreeds in 1815 voltooi teen 'n koste van 14 000 riksdaalers en is vernoem na die goewerneur, sir John Cradock. Dit het 'n ossewa ongeveer twee dae geneem om tot bo te reis. Die pas was in gebruik tot in 1848 toe die Montagupas voltooi is.
Die bakens is alreeds met die herdenking van die 1838-trek in 1938 opgerig. Hierdie bakens word vanjaar van begin tot end geverf.
Ander besoekers wat nie die bakens wil gaan verf nie, kan by die tolhuis gaan kuier met praatjies oor die passe, die draaie se name en die geskiedenis van die bou van die tolhuis. Heerlike koffie, pannekoek en ander tradisionele disse sal te koop aangebied word.
Mense kan middagetes nou reeds bespreek.
'n Kompetisie vir die beste tradisionele piekniekmandjie word teen 12:30 beoordeel deur twee kundiges oor die geskiedenis, dr. Milde Weiss en Santie van Below.
'n Donasie van R25 per persoon sal gevra word wat net so gaan vir die restourasie van die buitenskantste klipwerk wat alreeds begin het. 'n Eerste prys ter waarde van R600 asook wyne van Herold-wynplaas, glase en plante is onder die items wat gewen kan word met die piekniekmandjies. Inskrywingsvorms is by die museum en die toerismekantoor of by die organiseerders beskikbaar. Die Eden Minstrals sorg vir heerlike tradisionele musiek terwyl die vriende ook piekniekmandjies en potjiekos aanbied vir die hongeriges.
Vir besprekings en navrae, kontak Gerda Stols by 083 772 8252.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'