GEORGE NUUS - 'n Lewensveranderende ondervinding het oor die lewenspad van Jacques van der Merwe, 'n plaaslike videograaf gekom toe hy onlangs Libanon en Sirië besoek het.
Van der Merwe van Hartland Ministries het saam met 'n sendinggroep, wat mediese dokters ingesluit het, die lande besoek. Dit was deel van 'n uitreikaksie om hulp en bemoediging te verskaf aan die mense van Sirië.
Die groep het vanjaar tussen 20 April en 5 Mei die lande onder die vaandel van dia-LOGOS besoek. Hulle is 'n groep sendingkonsultante wat in die Tuinroete gebaseer is, maar die span het bestaan uit verteenwoordigers van ander dele van die land.
Van der Merwe werk in die mediabedryf ook as 'n mediasendeling en besoek sendelinge en aksies in verskeie gebiede. Tydens sy besoeke maak hy videoproduksies om meer van die werksaamhede van die betrokke sendelinge te vertel.
Van einde 2022 was hy onder meer betrokke by aksies in Egipte, Lesotho en Mosambiek.
Tydens 'n onderhoud met George Herald op Vrydag 30 Junie vertel hy dat hul eerste stop in Libanon was waar hulle 'n Christen-gemeente in Beiroet besoek het. Van daar het hulle in die Beqaa Vallei, Siriese vlugtelingkampe besoek en die dokters het ook mediese hulp verskaf. Die mense bly in tente wat van seil en plastiek gemaak is. Die higiëne is goed, maar omstandighede arm.
Na twee dae is hulle in die suide oor die Siriese grens. Hulle het basiese mediese voorraad saamgeneem.
Hulle het onder meer 'n draai in Damaskus, die hoofstad en ook Homs, een van die ander groot stede gemaak. Sowat 60% van die stad Homs is in die oorlog vernietig wat voorheen gewoed het tussen rebellemagte en Siriese regeringsmagte.
Volgens Van der Merwe was hy meeste van die tyd rustig alhoewel daar tye was wat hulle benoude oomblikke beleef het.
Tog was dit elke sent werd en hy sal die ondervinding vir geen geld verruil nie. "Dit was 'n geleentheid wat ek nie verby kon laat gaan nie. Ek was nog nooit in 'n oorlogsgebied nie. Die reis was 'n persoonlike belewenis. Ons was blootgestel aan besondere plekke en mense wat nie gewoonlik deur 'n toergroep besoek sou word nie."
"Ek het agtergekom dis altyd baie maklik om na die regerings en hul standpunte te luister. Wat ons vergeet is dat daar gewone mense is wat daar woon en leef. Mense wat lief het en omgee, gewone mense met families. Die reis was 'n lewensveranderende ondervinding wat my die wêreld in 'n totaal ander lig laat sien."
"Ek dink nie ons verstaan oorlog nie. Daar het ek met my eie oë gesien dat oorlog gevolge het. Op grondvlak is daar mense wat in daai wêreld leef. Die lewe staan nie stil nie, dit gaan aan en jy maak die beste van wat jy het."
Volgens hom was dit wonderlik om die verskil te kon sien wat hulle gemaak het. "Dit gaan nie net oor die fisiese hulp nie. Dit gaan ook oor die bemoediging wat ons aan die mense kon verskaf."
Dit is 'n besonderse voorreg om hierdie reise te kan onderneem en hy sien uit na die volgende geleenthede.
Jacques van der Merwe (agter heel links) saam met van die dokters en plaaslike mense in die Beqaa Vallei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’