GEORGE NUUS - Stel jou voor: jou troue is beplan, die predikant, kerk en onthaal is gereël en gaste is reg om van so ver as Kaapstad te kom - en dan kondig die president 'n totale inperking aan. Dit is wat die Georgiet Wayne Masimela en sy verloofde, Stacey-Lee Folding, oorgekom het.
Maar waar daar 'n wil is, is daar 'n weg en hulle het die terugslag in 'n geleentheid omskep: vervroeg die troue en geniet 'n heerlike drie weke lange wittebrood, nogal met die president se goedkeuring!
Hul troue was gereël vir 4 April en toe die slegte nuus kom, het hulle dit inderhaas vervroeg na die eerste dag van inperking, 26 Maart. "Die kos, die dekor, alles was so mooi beplan," sê Wayne. Stacey-Lee se rok was gereed.
Wayne, wat gespesialiseerde werk ter see doen wat hom vir lang tye uitstedig hou, sou sy pak kry nadat hy in Maart huis toe sou gaan. Hulle moes die huweliksbeplanner laat gaan, maar dié was so gaaf om elke sent terug te betaal. Hulle moes ook 'n ander fotograaf in die hande kry.
Wayne en Stacey-Lee verlaat die kerk as 'n egpaar.
Die geleentheid is steeds by St. Albans kerk in Pacaltsdorp gehou, waar vader Frans hulle in die huwelik bevestig het. In plaas van twee strooimeisies en twee strooijonkers was daar slegs een van elk, en 37 gaste - naaste familie van George en Herbertsdale - was getuies van die plegtigheid.
"Ons het wel net 'n kerkgeleentheid gehad en 'n fotosessie, maar toe die lockdown begin kon ons as nuwe getroude paartjie vir die eerste 21 dae mekaar koester, bederf, leer ken en mekaar se gewoontes aanleer, sê Wayne.
Vir Stacey-Lee was dit waarlik haar groot dag. "Die troue was meer as wat ons wou hê. Alles was so perfect," straal sy.
En Wayne wil bars van trots. "Die grootste deel van die nuus is dat ons nie net 'n blessing van 'n troue gehad het op lockdown nie, maar dat my vrou geboorte aan 'n pragtige babadogtertjie geskenk het," spog hy. Klein Ava-Leigh is op 15 Junie gebore.
Liefde en geluk
Naaste familie het in die vreugde van die vervroegde troue gedeel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'