Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Lang wagtye by Go George se sentrale terminus wanneer mense van die werk af wil terugkeer huis toe, word veroorsaak deur die padwerke op die Thembalethu-brug oor die N2.
Dit is volgens Go George wat gereageer het op klagtes van passasiers wat die afgelope twee maande ondervind het dat mense wat van 16:30 af by die terminus aanmeld vir hul rit huis toe, tot 18:00 moet wag voordat vervoer opdaag.
"Hoewel die skrywer sê daar is geen dienste by die sentrale terminus tussen 16:30 en 18:00 nie, noem sy die Parkdene-area en ons neem aan sy verwys na Roete 15 (Parkdene - CBD). Enigeen wat die terminus gedurende daardie tyd van die dag besoek, sal opmerk dat dit inderdaad 'n bedrywige tyd is met busse wat die heeltyd arriveer en vertrek," lees Go George se verklaring.
Hulle verduidelik daar is 13 ritte op Roete 15 (Parkdene - CBD) tussen 16:00 en 18:00 op weeksdae, wat ongeveer elke 15 minute vertrek, maar daar is tans 'n groot uitdaging met die Sanral-padwerke op die Thembalethu-brug oor die N2.
Die padwerke veroorsaak verkeersopeenhopings en vertragings vir alle verkeer in Nelson Mandela-boulevard en Mainstraat, Parkdene.
VIDEO: Verskaf
"Passasiers mag vind dat hulle vir 15 minute of langer by die sentrale terminaal moet wag, afhangende van die graad van opeenhoping in Nelson Mandela-boulevard, maar dit verskil ook van dag tot dag - daar is nie 'n patroon nie.
"Die sewe busse op hierdie roete doen meer as een rit elk gedurende spitstyd, en teen die tyd dat hulle hul tweede of derde rit onderneem, begin passasiers die kumulatiewe effek van die vertragings ervaar. Dus, om meer busse by te voeg, is nie die antwoord nie."
Go George sê op Roete 16 (Parkdene - Garden Route Mall) is die bus tydelik op 'n alternatiewe roete geplaas op sy pad terug na Parkdene om die vertragings op daardie roete aan te spreek.
"Go George is besig om alternatiewe oplossings te soek vir die busse wat na die CBD gaan. Ons vra om verskoning vir die ongemak wat deur faktore buite ons beheer veroorsaak word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'