Só het die familie van mnr. Karel Stalmeester (48) van Pacaltsdorp vandeesweek gesê nadat hulle hom Sondag in die George-hospitaal opgespoor het.
Die trane het Dinsdag oor Stalmeester se wange gerol toe sy vrou, Annie en suster, Sheila Thorne, hom huis toe gebring het.
Dit volg nadat die familie ‘n foto van Stalmeester op die George Herald se voorblad van 2 Junie gesien het.
Stalmeester, ‘n bouer, het vier jaar gelede op Moedersdag spoorloos verdwyn nadat hy en sy vrou die erediens by die VGK Pacaltsdorp bygewoon het. Hy het sedertdien as ‘n hawelose op die strate van George, Sedgefield, Knysna en selfs die Kaap gewoon.
Mev. Stalmeester, koster van die VGK Pacaltsdorp, sê haar man het ná die kerkdiens vir Thorne gaan kuier, maar het nooit daar opgedaag nie. Sy sê toe sy die foto van die hawelose op die voorblad sien, het sy geweet "dis my man".
Thorne vertel hulle was die volgende oggend douvoordag in die middedorp om navrae te doen by die ander haweloses oor waar haar geliefde broer is.
Dit was egter eers verlede Saterdag toe ‘n skoonsuster van Stalmeester iemand by die hospitaal gaan besoek het, dat sy hom in een van die sale opgemerk het. Sy het onmiddellik die familie in kennis gestel en hulle het hom Sondag daar opgespoor.
Mev. Stalmeester sê sy het op die Here vertrou en altyd bly glo hy sal terugkom. Sy het die afgelope vier jaar nie haar
huweliksherdenking gevier nie en was elke jaar alleen in die kerk, maar dié jaar sê sy "vier sy dit weer saam met haar man". Die egpaar was maar slegs twee jaar getroud toe Stalmeester verdwyn het.
Sy sê haar man is fisies nog baie swak, maar hy drink baie water. Die dokters vermoed hy het tuberkulose weens die koue en nat weer wat hy daagliks moes trotseer. Stalmeester is ook nog baie deurmekaar en sy geheue is "nie so goed nie".
"Hy sê hy is baie bly hy hoef nie meer in die koue bos te slaap nie. Plek-plek onthou hy wie hy is, wie ons is, maar... dan vergeet hy weer. Hy huil ook baie, veral as hy begin onthou. Hy is nou by die huis, waar ons met liefde na hom gaan omsien tot waar hy weer gesond is," sê mev. Stalmeester.
.jpg)
Mnr. Karel Stalmeester het vandeesweek ná vier jaar weer teruggekeer huis toe waar sy vrou, Annie, nou na hom sal omsien.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA