Update
TUINROETE NUUS - Emosionele tonele het hom vandag, Woensdag 24 Mei, buite die Thembalethu-streekhof afgespeel toe die 37-jarige Henry Solomons, sewe jaar nadat hy ‘n vrou van Albertinia ontvoer en verkrag het, swaar gevonnis is.
Die tweede beskuldigde, Jason Smit dien reeds 'n vonnis van 20 jaar uit nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Solomons het deurgaans volgehou dat hy onskuldig is.
Hy is egter skuldig bevind dat hy die slagoffer, Roshney Ntozini (27) wat slegs 20-jaar oud was tydens die wrede voorval op 16 Mei 2016 op haar, ontvoer het, verkrag het en ernstige aangerand het.
Ntozini het aan die media toestemming verleen om haar identiteit bekend te maak.
Solomons is gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf op ‘n aanklag van ontvoering, drie jaar gevangenisstraf op ‘n aanklag van ernstige aanranding en 25 jaar op ‘n aanklag van verkragting. Die vonnis sal samelopend uitgedien word.
Dié saak, wat deur die hande van 'n menigte aanklaers was, is die afgelope sewe jaar verskeie kere uitgestel omdat Solomons en Smit gedurig hulle weergawes verander het.
Staatsaanklaer Johan Erasmus het die saak suksesvol voltooi en ‘n emosionele Ntozini buite die hof getroos.
Gedurende die getuienis, het die hof gehoor dat Ntozini op die aand van die voorval saam met 'n vriend langs die N2 vanaf Riversdal, in die rigting van Albertinia duim gegooi het.
Ondersoek
'n Polisieondersoek het daarop gedui dat die beskuldigdes te voet verskyn het en Ntozini ontvoer en haar langs die pad gesleep het. Hulle was met onder meer 'n mes gewapen en het haar en haar vriend gedreig.
Haar vriend het daarin geslaag om weg te kom en het hulp ontbied. Die beskuldigdes het Ntozini intussen na 'n woning naby Gerhard du Plessis Sekondêre Skool duskant Riversdal ontvoer waar sy deur die nag aangehou en verskeie kere verkrag is.
Sy kon egter daarin slaag om te ontsnap ná die beskuldigdes na 'n buurhuis is om koffie te kry en haar saam gevat het. Die huiseienaar kon na die voorval een van die getuies ook op die wyse identifiseer.
Die ondersoekbeampte van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele misdrywe, ao Soretha van Zyl, het met haar ondersteuning die hele periode met Ntozini meegemaak en haar bly aanspoor om vir geregtigheid te veg.
Ondersoekbeampte in die saak, ao Soretha van Zyl gesels met die slagoffer, Roshney Ntozini na afloop van die saak.
Vorige artikel: Verkragter skuldig na sewe jaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’