TUINROETE NUUS - Sewe jaar nadat 'n vrou van Albertinia tydens 'n nagmerrie-ondervinding deur twee mans deurnag vir ure aangehou en verskeie kere verkrag is, het een van die beskuldigdes homself uiteindelik in die lang arm van die gereg vasgeloop.
Die tweede beskuldigde, Jason Smit dien reeds 'n vonnis van 20 jaar uit nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Die eerste beskuldigde, Henry Solomons, het volgehou dat hy niks met die ontvoering, verkragting en ernstige aanranding van die slagoffer, Roshney Ntozini (27) te doen gehad het nie.
Solomons is ná 'n jarelange hofstryd die afgelope Vrydag in die Tembalethu-landdroshof in George skuldig bevind op al die aanklagtes teen hom.
Ntozini, wat slegs 20-jaar oud was tydens die wrede voorval op 16 Mei 2016 op haar, het aan die media toestemming verleen om haar identiteit bekend te maak.
Gedurende die getuienis, het die hof gehoor dat Ntozini op die aand van die voorval saam met 'n vriend langs die N2 duskant Mosselbaai in die rigting van Albertinia duim gegooi het.
Ondersoek
'n Polisieondersoek het daarop gedui dat die beskuldigdes te voet verskyn het en Ntozini ontvoer en haar langs die pad gesleep het. Hulle was met onder meer 'n mes gewapen en het haar en haar vriend gedreig.
Haar vriend het daarin geslaag om weg te kom en het hulp ontbied. Die beskuldigdes het Ntozini intussen na 'n woning naby Gerhard du Plessis Sekondêre Skool duskant Riversdal ontvoer waar sy deur die nag aangehou en verskeie kere verkrag is.
Sy kon egter daarin slaag om te ontsnap ná die beskuldigdes na 'n buurhuis is om koffie te kry en haar saam gevat het. Die huiseienaar kon na die voorval een van die getuies ook op die wyse identifiseer.
Dié saak, wat deur die hande van 'n menigte aanklaers was, is die afgelope sewe jaar verskeie kere uitgestel omdat Solomons en Smit gedurig hulle weergawes verander het.
Geregtigheid
Die ondersoekbeampte van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele misdrywe, ao Soretha van Zyl, het met haar ondersteuning die hele periode met Ntozini meegemaak en haar bly aanspoor om vir geregtigheid te veg.
Beide Van Zyl en Ntozini was verheug toe Solomons uiteindelik aan die pen gery het. Ntozini het in haar slagoffer-impakverslag aan die hof verduidelik dat sy sedert die voorval gesukkel het om met haar lewe voort te gaan. Ná Solomons se skuldigbevinding het sy nou afsluiting gekry.
Die saak is uitgestel tot 24 Mei vir vonnisoplegging.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’