TUINROETE NUUS - Twee seuns van Hartenbos, wat oor 'n tydperk van vyf jaar bykans daagliks deur hulle ma se 46-jarige kêrel verkrag en seksueel aangerand is, het oor die misdrywe stil gebly omdat hulle onder andere gedreig is.
Die seuns wou ook nie hê hulle: "Mamma moet seerkry nie."
Die beskuldigde, wat in 'n stadium daarop aangedring het dat hulle hom 'pappa' moes noem, het ook by geleentheid die een seun se mond toegedruk.
Dit is van die getuienis wat in die Oudtshoorn-streekhof aangehoor is tydens die verhoor van die beskuldigde, wat deurgaans volgehou het hy is onskuldig.
Die man se identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser susterskoerant van George Herald bekend, maar word weerhou om die identiteit van die seuns, wat nou tieners is, te beskerm.
Die verkragtings en seksuele aanrandings het tussen 2014 en 2019 by die seuns se huis óf by die beskuldigde se huis plaasgevind. Dit het dikwels gebeur wanneer die kinders, wat teen die tyd wat die voorval aangemeld is, 10 en 11 jaar oud was, alleen in sy teenwoordigheid was.
Dade aangemeld
Die seuns het getuig dat die beskuldigde hulle dikwels wakker gemaak het om verskeie dade met hulle te pleeg en ook dikwels een van hulle voor die ander verkrag of seksueel aangerand het. Hulle moes hulle klere uittrek en saam met hom in die bed lê.
Die beskuldigde het ook vir die een seun gesê hy is sy "gunsteling" en dat dit die rede is hoekom hy meer gereeld met hom, as met sy boetie, die dade gepleeg het.
Die voorval het op die lappe gekom toe die ma een van die kinders in sy kamer gekonfronteer het nadat sy pornografie op sy selfoon gekry het. Die seun het vir haar gesê dat dit (die pornografie) was wat die beskuldigde gereeld aan hom en sy boetie gedoen het.
Die seuns se ma het 'n saak by die polisie aanhangig gemaak en die ondersoekbeampte in die saak, ao. Alistair Rezant, het die beskuldigde op 23 Oktober 2019 in Hartenbos in hegtenis geneem.
Die beskuldigde is verlede week tot altesame 90 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy vir 70 jaar effektiewe tronkstraf ontvang het. Dit is een van die swaarste vonnisse nóg op die kerfstok van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Die beskuldigde sal minstens 35 jaar tronkstraf moet uitdien voor hy vir parool in aanmerking sal kom.
Hy het sy vonnis emosieloos aangehoor.
Die ma van die slagoffers het in 'n slagofferimpakstudie gesê dat haar en die seuns se vertroue in die samelewing geknou is en dat sy hom nooit sal kan vergewe vir die bose dade wat hy met haar kinders gepleeg het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’