TUINROETE DISTRIKNUUS - Met die landwye inperkings is reis beperk tot by jou voor- of agterstoep.
Meeste mense droom al daarvan om in die motor te klim en met vakansie te gaan, maar tot en met die inperkings gelig word, kan Suid-Afrikaners in die gemak van hul rusbanke die land deurkruis.
Dié lekker reis is te danke aan die Virtual Travel-Facebook-blaaie wat deur Riaan Jordaan, Brendon Ciaravino, Daniel Lucas en Patrycja Oosthuizen gestig is.
Oosthuizen is van TravelChatSa en Travel Opulent Box in Kaapstad en behartig die Virtual Travel SA blad. Jordaan en sy span is van Riaan Jordaan Marketing & Photography en behartig Virtual Travel GardenRoute en Virtual Travel Klein Karoo.
"Die Tuinroete en Klein-Karoo-groepe vaar tot dusver die heel beste. Daar is ongelooflike mooi en interessante foto's van plekke wat mense al besoek het."
Die vier en 'n span rolspelers werk almal in die toerismebedryf en is veral op sosiale media bemarking gefokus.
"Die idee is om mense te laat toer van die huis af. Meeste mense is keelvol vir nuus oor Covid-19 en als wat daarmee saamgaan en hier skep ons 'n geleentheid om weer die mooi van ons streke te sien," vertel Jordaan.
Volgens hom gaan dit nie oor die bemarking van besighede nie, maar om Suid-Afrikaners die mooi van elke streek te wys en waar hulle wat kan besoek.
"Ons wil virtuele ervarings vir mense skep en aanmoedig om veral nou, meer as ooit, plaaslike bestemmings te ondersteun. Ons wil ook die wêreld wys wat ons as Suid-Afrika het om te bied sodat wanneer die landsgrense weer oopgestel word, ons land bo-aan die lys is van lande om te verken."
Daar is sewe virtuele reis Facebook-groepe, een vir Suid-Afrika en dan ook vir Tuinroete, Klein-Karoo, Kaapstad, die Kaapse Wynland, Overberg en die Weskus.
"Enigiemand is welkom om interessante en mooi foto's op die blaaie te sit en met die res van die streek te deel."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'