GEORGE NUUS - Die tema vir hierdie jaar se Mandela-maand is: Doen wat jy kan met wat jy het, waar jy is.
Die personeel en leerders van Africa Skills Private College het op Vrydag 22 Julie hulle moue opgerol, ingespring en hul vaardighede ingespan.
Hulle het onder meer messelwerk gedoen en die speelparkies reggemaak, afgeskuur en ‘n vars laag verf by Carpe Diem skool aangebring.
Die elektrisiën-, sweis-, loodgieter-, skrynwerk- en messelaar-leerders kon hul opleiding toepas en dit geniet om te sien hoe hul handewerk ‘n verskil maak.
Luidens 'n verklaring van Africa Skills College wil die bestuur, personeel en leerders ook graag vir Elzeth Grobler, haar personeel en Carpie-leerders 'n gelukkige 23ste verjaarsdag toewens.
"Ons hoop dat die werk wat ons vir Mandeladag kon doen, die leerders se speeltyd vir die volgende paar jaar sal ophelder," het Elsie Harmse, hoof- uitvoerende beampte van Africa Skills, gesê.
"Seëninge kom in vele vorms, maar die wonderlike uitreik aksie van Africa Skills se bestuur, personeel en leerders om Carpe Diem skool se terrein so fantasties te kom help opknap en veilig maak met hulle kundigheid en vaardighede gaan vir baie lank gekoester word omdat dit ons leerders dag vir dag die geleentheid bied om heerlik te kan speel," het Elzeth Grobler, skoolhoof van Carpe Diem, gesê.
"Hierdie gebaar van omgee spreek van u instansie se mooi karakter en hart vir u medemens en ons Carpies is voorwaar bevoorreg om u seën te kon ontvang."
Van die werk wat gedoen is deur verteenwoordigers van Africa Skills College.
Een van die swaaie word reggemaak.
Daar is ook messelwerk gedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'