GEORGE NUUS - Anel van Zyl en haar gesin moes hulle verhuising van 'n huurhuis na 'n huis wat hulle onlangs gekoop het vandag inderhaas begin. Hulle moet probeer om voor middernag klaar te wees voordat die nasionale inperking inskop.
Die plan was om komende naweek te trek, want sy en haar man werk albei in die week.
Volgens die regulasies word geen verhuising gedurende die 21 dae inperkingsperiode toegelaat nie.
'n Moedelose Van Zyl het aan die George Herald gesê die vervoermaatskappy wat gehuur is deur die persoon wat uit hul nuwe huis moes trek, het nie opgedaag nie. Dié ry sy besittings met 'n sleepwa aan na sy nuwe woonplek.
"Sy goed wat nog hier is, staan aan die een kant van die huis en ons goed aan die ander kant. Klomp van ons goed moet nog getrek word en van ons goed lê nog buite."
Die Van Zyls moet trek, want die huurhuis waar hulle uitgetrek het, kry 'n nuwe huurder.
"Ek het vanoggend nog gewerk ook," sê Van Zyl.
Verhuising verbied tydens inperking
Volgens Andrew Schaefer, besturende direkteur van Trafalgar, 'n eiendomsbestuursmaatskappy, verbied die regulasies rondom die verklaring van 'n nasionale ramp enigiemand om van een huis na 'n ander te verhuis gedurende die inperkingstydperk.
Hy het gesê mense wat die einde van die maand moes trek, moet óf voor middernag vanaand (Donderdag 26 Maart) trek, óf hulle sal moet wag tot die inperkingstyd verby is.
"Onder die huidige omstandighede sal ons ook aanbeveel dat huurders verseker dat die nuwe woning waar hulle intrek, behoorlik skoongemaak en ontsmet is voordat hulle intrek."
Hy het gesê indien 'n huurder weens die inperkingstydperk nie 'n nuwe perseel kan betrek nie, sal hy/sy nie deur die nuwe verhuurder verantwoordelik gehou kan word vir die huurgeld nie. Slegs wanneer die huurder die perseel betrek, sal huur betaalbaar word.
Dit is omdat dit omstandighede buite die huurder se beheer is.
Die verhuurder sal ook nie die eiendom tydens die inperkingsperiode aan iemand anders mag verhuur nie, al staan dit leeg," het Schaefer in 'n verklaring gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'