GEORGE NUUS - Die polisie is op soek na drie verdagtes, 'n vrou en twee mans, ná 'n 63-jarige man Vrydagaand, 17 Januarie, by sy huis in Stasiestraat aangeval en beroof is.
Volgens George-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Nolonwabo Tshengu, het die slagoffer iemand aan sy voordeur hoor klop. Toe hy die deur oopmaak het een van die mans hom met 'n mes aangeval en die vroulike verdagte het die huis binnegegaan.
Hulle het te voet gevlug met die slagoffer se selfoon en beursie.
Die slagoffer het beserings aan sy hande opgedoen en is na die hospitaal geneem vir behandeling.
'n Saak van roof met verswarende omstandighede word deur die polisie ondersoek.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting kan adjudant-offisier, Jerome Malan, by 044 803 4713 of Stop Misdaad by 0860 00111 skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'