Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - 'n Jong seun, Layken Felix (7) van Millerstraat in Rosemoor sterk goed aan ná hy verlede Dinsdag. 15 Augustus, deur 'n Amerikaanse veghond (pitbull terrier) aangeval is.
Die voorval het in 'n buurman se erf plaasgevind terwyl die seun by 'n maatjie gespeel het. Die buurman is die eienaar van die hond.
"My kind het baie pyn, maar ek is dankbaar hy leef. Hy kon dood gewees het," het sy ma, Elaine, kort ná die voorval aan George Herald gesê.
Volgens haar het die voorval in die hond se eienaar se erf plaasgevind toe haar seun vir 'n maatjie gaan kuier het. Hy was al baie daar, maar ons het nie daarvan gehou ná die bure die hond gekry het nie. Ons het hom gereeld gewaarsku oor die hond," vertel sy.
Volgens Elaine is die erf in twee verdeel en een van die ander kinders wat ook in die erf gespeel het, het die hek tussen die twee dele van die erf oopgelos waarna die hond uitgekom het. Haar seun het glo deur die erf geloop om by sy maatjie uit te kom toe die hond hom begin jaag en hy gestruikel het.
"Dis toe hy lê wat die hond hom aan die onderkant van sy arm gryp. Hy het probeer loskom, maar die hond het hom aan die skouer gegryp en hom geruk en gesleep. Die maatjie se pa en 'n buurman van oorkant die pad het tot sy redding gekom en die hond van hom af losgekry. Ek weet nie wie nog betrokke was nie."
Wonde wat die seun aan sy arm opgedoen het.
Elaine is in kennis gestel van die voorval en sy het dadelik die George-hospitaal gebel. "Die ambulans was gelukkig vinnig hier en hulle het hom dadelik by die hospitaal gehelp. Ek is baie dankbaar daarvoor," sê die ma.
Teen Dinsdag 22 Augustus kon die seun weer skool toe gaan. Volgens sy ma sterk hy goed aan. Die eienaar van die hond kon teen druktyd nie opgespoor word nie. Volgens Elaine is die voorval by die DBV en Conville-polisie aangemeld.
Bytmerke aan die seun se skouer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’