GEORGE NUUS - Gert Frederick Vallentyne van Blanco, of "Oupa", soos baie hom noem, het verlede Saterdag sy honderdste verjaarsdag gevier.
Ofskoon die familie reggemaak het vir feesviering in die gees van 'Great Gatsby' van die 1920's, is die verjaarsdagseun ongelukkig op sy spesiale dag in MediClinic George met longontsteking opgeneem.
Sy skoonseun, die welbekende biskop Donald Harker, het gesê Oupa Gert is later na Geneva-kliniek oorgeplaas en hy behoort vandag, Donderdag 29 Julie, ontslaan te word.
Die familie het van die geleentheid gebruik gemaak om Oupa Gert se dag namens hom te geniet, maar die sny van die koek is tot later uitgestel.
Ryk geskiedenis
Oupa Gert is in Stellenbosch gebore en het in die Langkloof en Uniondale grootgeword. Hy het aan Hoërskool Zonnebloem gematrikuleer en was 'n student van Wesley Training College waar hy homself as onderwyser bekwaam het. In sy loopbaan het hy vir 22 jaar die pos as hoof van 'n laerskool in Misgund gevul, waarna hy vir jare die hoof was van Fraaisig Primêr in Knysna (1968-1982).
Oupa Gert het na 42 jaar in die onderwys afgetree. Hy was deurentyd baie betrokke in sy gemeenskap en in die kerk.
Van sy posisies sluit in: skriba en tesourier by Uniondale VGK-gemeente; vyf jaar skriba by Knysna VGK; vyf jaar voorsitter van die Knysna Munisipale Bestuursraad; vyf jaar lid van die hospitaalraad in Knysna en twee jaar 'n lid van die provinsiale biblioteekraad.
Van links is biskop Donald Harker (skoonseun), Lyndon Harker (kleinseun) en sy verloofde, Claudie Palm, Vonnie Vallentyne (skoondogter), Joan Harker (dogter), Rosetta Vallentyne (skoondogter), Ray Jaftha en Nadine Harker.
Gesinslewe
In 1949 het Oupa Gert met Catherine Maria Petersen, 'n nooi van die Paarl getrou. Hulle het vier kinders gehad, waarvan drie reeds oorlede is. Hul dogter, Joan Harker (biskop Donald Harker se vrou), is Oupa Gert se enigste oorlewende kind. Maria Petersen het haar man in 2008 in die ouderdom van 83 jaar ontval.
Hul seun Adolph, 'n afgetrede skoolhoof in Kuilsrivier, het vanjaar in Februarie aan Covid-19 gesterf. Die oudste seun, Gerald, ook 'n voormalige skoolhoof, is sewe jaar gelede oorlede aan kanker. Hul jongste dogtertjie het op die ouderdom van drie aan kanker gesterf.
"Hy het nou en dan van sy afgestorwe seuns met verlange gepraat, maar dit het hom nie versomber nie of sy lus vir die lewe vernietig nie," het sy skoonseun, biskop Donald Harker, gesê.
Die verjaarsdagkoek wat vriende vir Oupa Gert laat maak het.
Pittige sêgoed
Oupa Gert is bekend vir sy pittige sêgoed en goeie sin vir humor.
"Toe sy jong dogter (Joan) een Vrydagaand weer 'n keer vra om dans toe te gaan, omdat sy so lief was vir dans, toe sê hy vir haar: 'Ag nee, nie weer vanaand nie. Bring die kitaar dan speel ek sommer vir jou hier in die kombuis en dan dans jy lekker vir ons'," vertel biskop Harker.
"Oupa hou deesdae daarvan om televisie te kyk en geniet veral die nuus, tennis, rugby en krieket. Hy is ook baie lief vir familiegesellighede en -byeenkomste."
Verder skat Oupa Gert goeie maniere na waarde, want die kleinkinders ken sy gunsteling sêding baie goed: "Met jou hoed in die hand kom jy deur die land!"
Gatsby! Vonnie Vallentyne (links, skoondogter), Joan Harker (dogter) en Rosetta Vallentyne.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'