Gallery Update Video
GEORGE NUUS en VIDEO - Die skrywer van die bekroonde Afrikaanse tienerroman Vaselinetjie moes haar huil onderbreek om verlede Saterdag voor die kameras te praat.
Anoeschka von Meck was in skok toe sy heel aan die einde van die kykNET-silwerskermfees by The Bay Hotel in Kampsbaai die aankondiging hoor dat die rolprent Vaselinetjie, gebaseer op haar boek, die hoofkategorie gewen het.
"Ek het uitgebars in 'n onvroulike, alleen-in-die-kamer-huil. Die filmmakers moes ook geskrik het, want hulle het net in verstarring gestaar. Dit was 'n groot skrik. Die oomblik was verby, ons het niks meer verwag nie," het Von Meck gesê.
Op pad na die onderhoude, net nadat Vaselinetjie met die titel, Beste fliek van die jaar bekroon is, sê Von Meck in trane aan die regisseur Corné van Rooyen: "Ons wen dan niks nie, en daar wen ons."
Sy vertel van die middag se hitte, haar swart aandklere, styfste bra en boerstewels.
Daar was 'n partytjie-atmosfeer en natuurlik 'n hoop om met ietsie weg te stap by hierdie Oscar-aand vir Afrikaanse flieks.
"Soos die dag aangaan begin jy by verskillende venues hoor hoe die mense lag en handeklap, vraesessies en flieks wat speel. Jy raak benoud, want jy begin agterkom watter flieks is gewild. My eie fliek se screening was eers 17:00."
"My ma het haar sat gehuil. Dit is 'n pragtige poëtiese kunsfliek. Dis nie kras of kômmen nie. Ek is nie skaam om dit vir iemand aan te beveel nie," het sy gesê.
Die rolprent Vaselinetjie is net 'n paar keer genomineer en dit het aanvanklik gelyk of hulle niks gaan wen nie.
"My ma begin vir my fluister alles gaan nie oor wen nie. Dit is daai tipe speech wat jy nie wil hoor nie. Ek wil huil en my Grandpa's is uitgewerk. Eintlik wou ek gewen het," het Von Meck gesê. "Hulle het al begin met die toesprake en bedankings van die borge. En toe begin hulle met die laaste kategorie - ek het nie eens geweet daar is nog nie. Ons het ons hoop verloor, en daarin was vir my 'n geestelike boodskap. God kom aan die woord aan die einde."
Vaselinetjie in die klaskamer
Die aktrise Marguerite van Eeden het 'n spesiale toekenning ingepalm vir haar vertolking van die hoofkarakter, die volwasse Vaselinetjie. Met die regisseur Corné van Rooyen aan haar sy, het dié twee die afgelope week verskeie skole in die distrik besoek om oor die rolprent te gesels.
Van Rooyen het Dinsdag aan leerders van PW Botha Kollege in George gesê die fliek is 'n stem op sy eie.
Kyk 'n video hier:
"Jy kan nie die fliek kyk en dink jy hoef nie die boek te lees nie," het hy gesê. Op skool het Van Rooyen gesukkel met disleksie en na skool het dit die jong regisseur 'n aantal jare geneem om sy nering te vind.
"Jy hoef nie goed te spel om 'n storie te vertel nie," het hy gesê. "Dit is vir my belangrik dat kykers saam met die karakters op 'n emosionele reis gaan. Die fliek moet jou toelaat om jou eie emosies te voel. Die boodskap is dat daar 'n doel is met jou lewe. Daar is 'n rede hoekom Vaselinetjie oorleef het. Sy is salf vir ander mense se harte."
Vaselinetjie word vanaf 22 September op die groot skerms vertoon. Anoeschka von Meck se boek Vaselinetjie is in 2004 deur Tafelberg gepubliseer en het daarna 'n hele rits literêre-toekennings ontvang.
Die verhaal is gegrond op Von Meck se ware ervarings as versorger in 'n kinderhuis en vertel die storie van Helena 'Stukkie Vaselinetjie' Bosman en haar vriende.
Von Meck is ook die skrywer van Annerkant die Longdrop (1998) en Essie Honiball - Die Ontwaking (2010). Sy was voorheen 'n joernalis van die George Herald en Knysna-Plett Herald (2010 - 2014).
Eksklusiewe onderhoud met Von Meck:
Hoe voel dit?
"Ek is in totale skok. Ek voel asof my hele wese een groot uitroepteken is wat net heeltyd vir VaderGod en Die Beminde dankie bly sê! Ek voel of 'n brander heuning van Goddelike guns my getref het, sowaar!"
Wat het deur jou kop gegaan?
"Met my aankoms Saterdag by die Silwerskermfees het ek heimlik die hoop gehad dat ons iets so wen, maar soos die dag aangegaan het ek jy sien en hoor van al die fantastiese ander rolprente waarmee ons meeding, het ek begin twyfel wat ons kans was. Heel aan die einde van die dag (wat by die luukse The Bay Hotel in Kampsbaai gehou was), is die toekenningseremonie (amper soos die Oscars!). Hoewel ons in verskeie kategorieë benoem is, het ons nêrens gewen nie. My moed het tot in my boerestewels gesak en my ma het goed begin fluister van 'dit gaan nie altyd oor wen nie, maar ek moet eerder fokus op watter hengse eer dit is om my kop se karakters lewendig op die skerm te sien.' Eintlik wou ek net huis toe gaan. Ek was lus vir koffie en eier op brood. En vir kaalvoet op my ouers se stoep sit. Ons was al by borge en toesprake en skielik sê hulle daar is nog 'n finale kategorie - vir die Beste Film van die fees.
"En die wenner is ... Vaselinetjie!"
Ek het so geskrik dat ek vooroor gevou het (sover my borste toelaat, ha!) en begin SNIK! Later sou René van Rooyen (wat saam met haar man, Corné, die draaiboek geskryf het. Hy was ook die regisseur) vir my sê dat hulle was ewe geskok en toe hulle al op die verhoog staan, toe wonder hulle of hulle reg gehoor het? Hulle was net so stomgeslaan soos ek! Jy moet verstaan dat met elke kategorie waar ons NIE gewen het nie, het ons dit soos 'n vuishou gevoel en teen die einde van die aand was ons al emosioneel byna potblou - Corné-hulle nog seker meer as ek.
Jy hoop en jy verloor. Dan nog 'n kategorie en weer niks nie.
Jy hoop en jy verloor wéér.
René sê die eerste ding wat sy regtig kan onthou is waar hulle van die verhoog af gelei word en my in die gang kry en hulle sien net ek huil snot-en-trane, haha. En ek kerm "Maar ons het dan niks gewen nie en toe wen ons skielik die grootste toekenning van die fees!"
Die reis - tot by die toekenningsaand - en die aand self, was emosioneel uitmergelend.
Corné het Saterdagmiddag gesê hy voel soos 'n man in kraam. "Dit moet nou uit!"
Video waar skool toegespreek word:
Jy was ook self baie betrokke met die maak van die film self?
'n Skrywer wat 'n storie verkoop is soos iemand wat 'n kind opgee vir aanneming. Jy moet daai 'baba' net laat gaan en hoop die aanneemouers is liewe mense. Gewoonlik soek die rolprentmakers en draaiboekskrywers nie die skrywer van die boek naby hulle nie want die rolprent gaan nooit nes die boek wees nie. Ek glo Corné is vooraf bestem. Dit is/was deel van sy eie lewensbestemming. (Vreemd genoeg was ek die verslaggeefster van Rapport wat destyds 'n onderhoud met hom gaan voer het toe hy die top student in AFDA was!)
Op 'n Goddelike onverklaarbare manier het ek en Corné-hulle op PRESIES dieselfde week verlede jaar op Springboek gewees sonder dat ons dit vooraf beplan het! Ek was daar vir Afrikaans.com en hulle het kom plekke soek wat as Vaselinetjie se tuisdorp kon dien. En daar gaan wys 'n vriendin van my (Helen Bruwer) vir Corné die klein bruin nedersetting van Bulletrap en dit is 'n kolskoot!
Ek was ook in Johannesburg op stel waar ek 'n klein rolletjie vertolk het.
Hoe was dit?
Ek was 'n uur laat weens 'n vervoermisverstand en die homopatiese kalmeerpille wat ek gesluk het, het eers ingeskop na als verby was. Die toneel was by 'n regte hoërskool met regte leerlinge geskiet. 'n Kameraman het my verskeie kere ysig betas en 'n mikrofoon in my bra verstel ten aanskoue van 'n hele saal kinders en kameraspan. Dit het my opnuut laat besef 'n loopbaan in pornografie sou nooit vir my gewerk het nie.
Enige staaltjies wat jy wil deel?
Na die aankondiging dat Vaselinetjie gewen het, was ek en my ma terug in die hotelkamer. Dan huil ons, dan bid ons, dan skep ons eers asem voor ons verder huil. Ek staan toe met my selfoon in my hand want ek meen ek moet nou iemand bel om die fantastiese nuus te deel.
"Wie kan ek bel? Ek wens pa was hier."
"Nou bel jou pa!" sê my ma. (Vloog Theron)
"Maar pa is dood?"
"Bel hom nog steeds!"
Net my ma wat so 'n tipe antwoord sal gee, haha.
Toe lag ons lekker.
Oor die rolprent self (ons mag nog nie te veel uitpraat nie)
Corné het daarin geslaag om 'n poëtiese kunsrolpent te maak wat universeel is en tog ook 'n baie spesifieke oomblik in Suid-Afrika se emosionele ontwaking vas te vang. Dis nie net Vaselinetjie was moet uitvind wie sy werklik is nie, dis 'jong' Suid-Afrika.
Die gebruik van klank is met tye voortreflik. Dit vat jou gemoed van die stiltes van die platteland na die chaos van 'n stedelike kinderhuis.
Die storie is stil. Meer tussen die lyne as in dit wat gesê word.
My gunsteling toneel is een wat ek nie self geskryf het nie: die jonger en ouer Vaselinetjie lê in die veld na mekaar en staar en in die volgende oomblik is die jonger een (simbolies van haar onskuld) weg!
Hierdie is 'n rolprent wat in jou emosionele landskap inge-ets word. Onvergeetlik.
Lees 'n vorige artikel: Local's book 'Vaselinetjie' made into film
ARTICLE: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOURNALIST
'We bring you the latest George, Garden Route news'