Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die strydbyle is begrawe en 'n wit vlag is gehys, ter wille van die gemeenskap van New Dawn Park in George. Cecil Noble, 'n DA-wyksraadslid vir wyk 16 (New Dawn Park, Andersonville) en Theresa Fortuin, 'n Icosa-raadslid van die Garden Route-distriksmunisipaliteit en inwoner van die wyk, het verlede Sondag hul tweede uitreikaksie saam aangepak.
Drie gesinne van Moeggehuur, 'n plakkerskamp in New Dawn Park, is Sondag op 'n middagete van oondgebraaide hoender, groente, slaaie en poeding getrakteer, nadat hulle al hul aardse besittings verlede Saterdagoggend in 'n brand verloor het.
Die ete-inisiatief is deur Noble en Fortuin van stapel gestuur, met die hulp van Enrico Appolus wat 'n eetplek by die Pacaltsdorp-toerismesentrum bestuur, waar die ete gehou is. Besighede in Pacaltsdorp, waaronder die Spar-winkel, het ruim skenkings verskaf.
Einde verlede jaar het Noble en Fortuin hul eerste gesamentlike inisiatief aangepak - 'n Kersete vir die bejaardes van die wyk. Samewerking tussen Noble en Fortuin kom as 'n verrassing, nadat die twee in die verlede dikwels haaks was. Met die voortslepende behuisingsbetogings wat bykans 'n jaar gelede in die woongebied ontstaan het, het Noble en Fortuin nie om dieselfde vuur gesit nie.
"Dit is nou verby en ons kyk vorentoe," het Fortuin vroeër die week gesê.
"Ons wil albei die beste vir ons mense hê, dis tyd dat ons kragte saamsnoer." Noble het gesê die stand van sake is vir hom 'n verligting.
"Ek is opgewonde oor 2020. In die terrein waar ons werk is daar baie mynvelde, maar ons wil graag dienste lewer. Ons mense kom eerste."
Kyk 'n video hieronder:
Hulp uit alle oorde
Hulp vir die drie huisgesinne, wat hul hutte in die brand verloor het, het uit alle oorde gestroom. Soveel klere en huisraad is aan die gesinne gestuur, dat hulle ander gesinne binne Moeggehuur ook kon help.
Volgens Fortuin was Carl van Blerk van die Eden Lions, Sean Snyman, portefeuljeraadslid vir maatskaplike dienste, en die George-gemeenskap van groot hulp. Niemand is tydens die brand beseer nie en die oorsaak is onbekend. Die munisipaliteit en brandweer het vinnig opgetree.
Die huisgesinne - 15 mense - het in die gemeenskapsaal in New Dawn Park tuisgegaan terwyl hulle wag op noodbehuising. Twee plakkershutte het tot op die grond afgebrand terwyl 'n derde hut beskadig is. Dalene Valentine, 'n bestuurslid van Moeggehuur, het ook haar hut verloor.
Edwin Herandien, waarnemende direkteur van behuising, het bevestig die munisipaliteit gaan die strukture wat afgebrand het, vervang en die ander weer regmaak sodra die dokumentasie ontvang is. Die munisipaliteit help slegs mense wie se maandelikse inkomste nie R3 500 oorskry nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'