Gallery
GEORGE NUUS - Die dierewelsynsorganisasie in Groot-Brak, CAWS4PAWS, het 'n plakkaatkompetisie vir die jaar 3-leerders van Van Kervel Skool aangebied om bewusmaking te skep van die nood van mishandelde en verwaarloosde troeteldiere.
Die doel van die kompetisie is ook om die skool te betrek by fondsinsameling vir CAWS4PAWS. Leerders moes plakkate ontwerp wat die publiek sal oorreed om skenkings te maak.
FOTOGALERY: Plakkate vir CAWS4PAWS
Die beste plakkate is op Vrydagoggend 1 September tydens 'n saalbyeenkoms aangekondig en pryse aan die wenners oorhandig.
'n Vrywilliger van CAWS4PAWS, Sonja Stander, sê hulle was aangenaam verras met die kreatiewe plakkate waarmee leerders vorendag gekom het. "Hulle ontwerpe het ons voorwaar beïndruk. Die leerders het ook lyste gekry om huis toe te neem om geld onder vriende en familielede in te samel. Op 15 September sal dié wat die meeste geld bymekaar gemaak het, ook pryse ontvang."
CAWS4PAWS se bestuurskomiteevoorsitter, Barry Greyvenstein, het gesê hulle sou eers net vir die eerste drie plekke pryse gegee het, maar daar was soveel pragtige plakkate dat hulle besluit het om die 10 bestes te kies, en elkeen het 'n prys gekry.
Kaydin Maritz se plakkaat het eerste plek gekry, Stevan Uithaler s'n tweede en Abigail Grootboom s'n derde. Die sewe opvolgers is Cornecia Bruintjies, Marelize Bester, Raydienne Jansen, Wynand Schwart, Mariska Manus, Ambur Lingerveld en Hlumelo Stwayi.
Publiek kan só bydra
Lede van die publiek wat wil bydra tot die Van Kervel en CAWS4PAWS-projek, kan skenkings by die skoolkantoor aflewer. Dit sal dan eweredig verdeel word tussen die klasse. Ouers met 'n kind by Van Kervel of wat 'n leerder ken by die skool, kan die skenking aflaai, spesifiek toegeken aan die leerder se registerklas.
Kaydin Maritz se plakkaat wat die eerste prys gekry het.
Sonja Stander, 'n vrywilliger van CAWS4PAWS en een van die organiseerders van die plakkaatkompetisie, oorhandig 'n prys aan Lumelo Stwayi vir sy plakkaatontwerp.
Die eerste drie plekke in die CAWS4PAWS-plakkaatkompetisie, van links, voor: Stevan Uithaler (2de), Kaydin Maritz (1ste) en Abigail Grootboom (derde). By die leerders is vrywilligers van CAWS4PAWS, van links: Barry Greyvenstein (komiteevoorsitter), Sonja Stander en Dave Robbins (tesourier). Foto's: Alida de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’