Gallery
GEORGE NUUS - Nie wind of weer kon die organisasie, Uplifting Hands, keer om Saterdag hul plakkaatoptog deur Pacaltsdorp na New Dawn Park te lei nie. Denzil Gericke van die nie-winsgewende organisasie sê hulle werk in al die verskillende gemeenskappe van George om mense bewus te maak van die newe-effekte van dwelms.
Hy sê die organisasie is gebaseer op Christelike waardes en hulle gebruik gebed as deel van hul berading. "Ons bid vir mense. Ons glo mense gaan gebukkend onder sosio-ekonomiese euwels wat dan lei tot dwelmmisbruik."
Hulle het ook sopkombuise, 'n klerebank, sport- en jeugprogramme, jeugontwikkeling asook musiek- en dansklasse. Gericke sê met hul berading help hulle verslaafdes en enigiemand wat deur die verslawing geraak word, om hul emosies te kan hanteer. Saterdag het hulle in New Dawn Park met mense gepraat wat hul verslawing oorkom het, en nou 'n beter skoon lewe lei.
"Die mense het belydenisse gelewer oor hoe hulle hul lewens met ons hulp verander het, en hoe hulle na die Here gedraai het as hul Verlosser."
Melvin Naik, George-burgemeester, was die gasspreker en volgens hom doen die organisasie baie goeie werk in die gemeenskap.
Die organisasie, Upligting Hands, het Pacaltsdorp vroeg Saterdagoggend wakker gemaak.
Hy sê Saterdag was daar baie jong kinders wat nie altyd besef wat rondom hulle aangaan nie. "Dit is juis hulle wat dan vasval in dwelmmisbruik omdat dit in hul huise gebruik word. Ons wil voorkom dat daardie jong kind nie dieselfde pad stap nie."
Hy sê hy gee sy volle ondersteuning aan die organisasie omdat daar meer gedoen moet word om dwelmmisbruik te voorkom.
Oud en jonk het Saterdagoggend deelgeneem aan 'n plakkaatoptog deur Pacaltsdorp om bewusmaking te skep.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'