Madonsela se kantoor het haar bevindinge verlede Vrydag bekendgemaak, in 'n verslag met die titel "Out of the Blue". Daarin maak sy die aantuiging dat Patrick Buys se aanstelling as area-koördineerder van Touwsranten "'n oortreding is van die munisipale aanstellingsbeleid". Die verslag verwys ook na beweerde politieke inmenging deur die burgemeesterskantoor. Hierdie bewering word deur George-burgemeester, Charles Standers, ontken.
Buys is in 2011 aangestel, kort na die munisipale verkiesings, waarin hy vir die DA in Touwsranten stemme gewerf het. Volgens Vaas, 'n ANC-ondersteuner, het hy ook vir die posisie in 2010 aansoek gedoen, maar is hy later meegedeel dat die pos gevries is as gevolg van 'n tekort aan fondse.
"In September 2011 is Buys aangestel sonder dat die pos weer geadverteer is," het Vaas gesê. Vaas het 'n klag by die Openbare Beskermer gelê, wat voorgestel het dat Vaas en die munisipale bestuurder, Trevor Botha, ontmoet om tot 'n vergelyk te kom. Volgens Vaas het Botha tydens daardie ontmoeting aan hom gesê dat hy onder druk was om Buys aan te stel. Botha ontken dat hy dit tydens die ontmoeting gesê het. Die twee kon nie tot 'n vergelyk kom nie en Vaas en Madonsela het hul ondersoek voortgesit. Dit is verlede Donderdag uitgereik. In haar verslag stel Madonsela voor dat die raad dit moet oorweeg om disiplinêre stappe teen die munisipale bestuurder (Botha) te neem, omdat hy "daarin misluk het om George-munisipaliteit se beleid vir indiensneming te volg". Volgens Botha is die bevinding verkeerd dat Buys se aanstelling onwettig is. Hy voer aan die die munisipaliteit besig was met herstrukturering en dat Buys se salaris dienoorkeenkomstig is met sy tydelike aanstelling. Botha het bevestig dat die pos wel onlangs geadverteer is, waarna 'n aanstelling gemaak sal word.


