GEORGE NUUS - Man vas vir moord in Syferfontein: 'n Man van Syferfontein in Pacaltsdorp is Sondagaand, 7 April, vir moord in hegtenis geneem nadat 'n man, wat hy na bewering vroeër die week aangerand het, in die hospitaal dood is.
Volgens inligting wat deur 'n bron aan die George Herald verskaf is, het die verdagte die oorledene verlede Saterdag 30 Maart na bewering in sy huis betrap terwyl die oorledene besig was om die verdagte se meisie te betas terwyl sy geslaap het. 'n Stryery het ontstaan en die verdagte het die oorledene bygedam.
Die verdagte het Maandag in die George-landdroshof verskyn waar die saak tot 18 April uitgestel is. Hy bly in aanhouding.
Teen druktyd Woensdagoggend is daar nog geen kommentaar of inligting rondom die voorval van die polisie ontvang nie.
Man steeds in aanhouding na vrou se moord
Jack Claassen (47) van New Dawnpark het Vrydag 5 April weer in die George-landdroshof verskyn in verband met sy vrou, Katie (43) se moord. Die saak is tot vandag, Donderdag 11 April, vir sy borgtogaansoek uitgestel. Hy word daarvan aangekla dat hy sy vrou op Saterdag 2 Maart na bewering met 'n betonlatei (lintel) doodgeslaan het.
Die voorval het by die paartjie se huis in Sierriestraat plaasgevind.
Blanco-moordverdagte se borgtog geweier
Neil Moos, die man van Blanco wat van die moord op die 38-jarige Johannes Stuurman verdink word, se borgtog is op Dinsdag 2 April in die George-landdroshof geweier. Moos word daarvan aangekla dat hy Stuurman op Sondag 3 Maart in Crystal-rylaan in Golden Valley (Blanco) doodgesteek het. Stuurman is in sy nek gesteek en sy hoofslagaar is getref. Hy het op die toneel gesterf. Die polisie het Moos kort daarna, met 'n bebloede mes in sy besit, inhegtenis geneem.
Volgens George-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Nolonwabu Tshengu, spruit die voorval glo uit 'n stryery tussen die twee mans.
Moos verskyn weer op 6 Mei in die George-landdroshof.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'