GEORGE NUUS - Die ATKV- tak, Sommer Net Ons het Saterdag 27 Julie vir die tweede jaar ‘n suksesvolle leesmarathon in Pacaltsdorp aangebied vir leerders van graad R tot 7.
Die fokus van die projek is om leesbewustheid onder kinders te kweek.
Die tak fokus hoofsaaklik daarop om Afrikaans en kultuur te bevorder in voorheen benadeelde gemeenskappe en ontwikkeling word vooropgestel.
Die 2019 leesmarathon se tema, 'Vang gees deur te lees', is deurentyd beklemtoon en die anti-boelie-onderwerp is deur bekwame fasiliteerders met leerders in hul onderskeie groepe bespreek. 'n Totaal van 177 leerders van verskillende skole en voorskoolse sentrums het vir die projek geregistreer. Newdawnpark, Pacaltsdorp en Dellvillepark Primêre Skole, almal kwantiel 4-skole, het leerders ingeskryf.
Die marathon is aangebied in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement: Leerondersteuning, George-biblioteek en George-munisipaliteit: Sosiale Ontwikkelingdepartment. Wimpy en McDonald’s het bygedra tot die etes vir die dag en individuele bydraes het alles gehelp om die suksesvol te maak.
"Die momentum van die leesmarathon is wesenlik sigbaar, daarom is ons tak genoodsaak om vir 2020 te beplan. Ons pleidooi is dat ouers en belanghebbendes moet aanmeld by ons tak om deurlopende leesondersteuning te verleen aan ons kinders, veral waarleesgeremdheid bestaan," sê Sommer Net Ons-takvoorsitter, Beverley Mckelly.
Om betrokke te raak, kontak haar by 071 604 2007 of sommernetonsatkv1@gmail.com.
Leerders luister aandagtig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'