GEORGE NUUS - Twee legendes van George-polisie se sigbare polisiëringseenheid (Vispol) het ná 'n gesamentlike 82 jaar, hul uniforms gegroet.
Lt.kol. Leon Barendse en sy eweknie, lt.kol. Elmarie van der Westhuysen het albei die Suid-Afrikaanse polisiediens op Vrydag 30 Junie vaarwel geroep.
Barendse, wat vir 42 jaar en ses maande ononderbroke diens gelewer het, het sy polisieloopbaan op 31 Desember 1981 begin toe hy by die Spoorwegpolisie in George ingesweer is.
Toe hy op 14 Junie 1981, 18 jaar oud geword het, is hy na die destydse Jan Smuts Internasionale Lughawe (OR Tambo Internasionale Lughawe) verplaas. "Ek het 18 geword op die trein," vertel hy.
Aan die einde van daardie maand sluit Barendse aan by die polisie se Spoorwegkollege op Esselenpark vir opleiding en teen Desember klaar hy uit en word teruggestuur na OR Tambo.
"Die dag wat ek offisier geword het op die lughawe was die hoogtepunt van my loopbaan," vertel hy trots.
Lt.kol. Van der Westhuysen kort na sy by die polisie aangesluit het.
Later is hy bevorder tot stasiekommissaris in Reigerpark. Hy word daarna na Thembisa verplaas waarna hy na Edenvale is en toe uiteindelik in George beland het.
"Ek is vir 'n kort rukkie Oudtshoorn toe gestuur om by hulle misdaadvoor-komingseenheid aan te sluit, maar is toe weer terug George toe verplaas op 'n diensreëling," sê hy.
Barendse was stasiekommissaris by Conville voor hy by George-stasie na die kantore verplaas is. In 2013 word hy skofbevelvoerder tot vanjaar met sy aftrede. Barendse het die rang van luitenant-kolonel vir 28 jaar gedra en spog ook met 'n meestersgraad in besigheidsadministrasie.
Hy sê sy hartseerste dag was die dag toe hy vir die laaste keer as 'n lid van die SAPD by die stasie uitloop. Emosionele oomblikke het hulle afgespeel toe hy na sy laaste nagskof deur sy kollegas met 'n heldeontvangs buite die stasie gegroet is.
In die stadium het hy nog nie planne vir sy toekoms nie en sê hy gaan net vir 'n rukkie ontspan.
Deur die jare het Barendse sy deel van misdaad- en ongelukstonele bygewoon, maar hy sê een wat hom altyd sal bybly was 'n toneel op die N2 naby Swartvlei in 1996 toe nege mense in 'n motorongeluk met drie voertuie oorlede is. "Die een motor se petroltenk het ontplof. Dit was 'n vreeslike toneel," sê hy.
Barendse sê as hy enige raad aan die jong offisiere kan gee is dit om nooit te sê jy kan nie iets doen nie. Sê eerder jy weet nie hoe nie, maar jy is bereid om te leer."
Dankie
"Om by die SAPD te werk was my roeping, nie my werk nie. Ek wil dankie sê aan my vrou wat my deur die goeie en slegte tye ondersteun het, asook my twee pragtige kinders. Dankie ook aan die SAPD vir die geleentheid om vir 42,5 jaar diens te kon lewer. Dit was 'n eer om my land te dien."
Van der Westhuysen groet
'n Ystervrou in George se Vispol-eenheid, lt. kol. Elmarie van der Westhuysen sê sy gaan nou soveel tyd saam met haar kinders en kleinkinders deurbring as wat sy kan.
Sy het in 1984 by die polisiekollege in Pretoria (Tshwane) aangesluit waarna sy uitgeplaas is na radiobeheer in Pietermaritzburg. In 1987 word sy verplaas na die kantoor van die distrikskommandant. In 1992 verplaas hulle haar na Town Hill waar sy stasiebevelvoerder word en 'n jaar later word sy gevra om terug te keer na die kantoor van die distrikskommandant.
Sy doen in 1993 haar offisierskursus en word bevorder tot luitenant in die Paarl.
Daarna word sy na Pietermaritzburg en Port Shepstone verplaas waar sy as bevelvoerder in die polisie se motorhawe (meganiese dienste) gewerk het. Sy kry bevordering na die rang van kaptein by dieselfde eenheid. Daarna word sy na dieselfde eenheid in 2000 na George verplaas.
In 2011 word sy tot majoor bevorder en werk vir twee jaar in George se inligtingbestuurseenheid. In 2013 sluit sy by George se Vispol-eenheid aan as Vispol ondersteuningsbevelvoerder voor sy van 2017 tot 2020 waarneem as dié eenheid se bevelvoerder.
Van September 2021 tot September 2022 sluit sy by die skofte-eenheid aan en tydens haar laaste jaar in diens van die SAPD word sy weer die Vispol-eenheid se ondersteuningsbevelvoerder.
Ná etlike jare in diens van die SAPD het lt.kol. Elmarie van der Westhuysen en lt.kol. Leon Barendse hulle aftrede op 31 Junie verwelkom. Foto: Kristy Kolberg
Hoogte- en laagtepunte
Sy sê 'n groot hoogtepunt in haar loopbaan was toe sy by die Vispol-eenheid aangesluit het. "Dit was baie opwindend om buite te werk. Elke toneel en situasie verskil," vertel sy.
Sy vertel dat 'n verdrinking by Kleinkrantz een van haar moeilikste tonele was. "Dit het my baie gevang. Selfmoorde was ook altyd vir my baie erg en tonele waarin kinders betrokke was," sê sy.
Raad aan die jong klomp
"Bly altyd getrou aan jouself en jou oortuigings. Moenie deur ander beïnvloed word nie. Eerlikheid is ontsettend belangrik."
Van der Westhuysen sê haar grootste ondersteuners deur die jare was haar seun en haar dogter. "Hulle is my rotse en ek kan nie wag om meer tyd saam met hulle deur te bring nie. Ek gaan nog 'n rukkie in George wees, maar daarna trek ek Patensie toe om nader aan my dogter en my kleinkinders te wees," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'