GEORGE NUUS - Hoë polisiesigbaarheid is Donderdag, 26 Januarie, in die strate van Pacaltsdorp gehandhaaf nadat gewelddadige aanvalle onder hoërskoolleerders vroeër die week in die area voorgekom het.
Vir drie dae het groepe leerders mekaar met skerp voorwerpe aangeval as hulle van die skool op pad huis toe loop. Twee leerders is tydens die voorvalle beseer.
Die eerste voorval het Maandagmiddag om 15:00 plaasgevind toe ‘n leerder (18) van Hoërskool Pacaltsdorp in Missionstraat deur ‘n medeleerder aangeval is. Die slagoffer het beserings aan sy gesig opgedoen en is na die hospitaal vir behandeling geneem.
Dinsdagmiddag het nog ‘n geveg uitgebreek. Dit was vermoedelik ‘n wraakaanval, tussen ‘n groep leerders van dié skool en ander groepe (nie-skoolgaande jong mans) na aanleiding van die vorige dag se geveg.
“Dis was verskriklik. Die kinders het mekaar met messe en pangas gejaag en na mekaar gekap. Klippe is rondgegooi en die arme kleintjies van die laerskool het ook verwilderd rondgehardloop. Hulle kon lelik seergekry het terwyl hulle in die spervuur vasgevang was,” vertel ‘n inwoner wat die gebeure sien afspeel het.
Nadat die situasie ontlont is, is die groepe uitmekaar, maar die vrede was van korte duur.
Woensdagmiddag kort na 14:00 het groepe leerders weer slaags geraak, en is kapmesse rondgeslinger en ander skerp voorwerpe uitgepluk. ‘n Leerder (19) het veelvuldige beserings opgedoen nadat hy met pangas en messe aangeval is. ‘n Jeugdige is in verband met dié voorval in hegtenis geneem.
Sers. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat 'n aantal voorvalle die afgelope week by die Pacaltsdorp-polisie aangemeld is met betrekking tot die gewelddadige voorvalle.
“Twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer is vir verdere ondersoek geopen.”
Spies sê Maandag se voorval het omstreeks 15:00 plaasgevind. “'n Groep leerders van die skool het in Missionstraat gestap toe 'n ander leerder die 18-jarige slagoffer aangeval het.”
Hy sê beskikbare inligting rakende die voorval Woensdag dui daarop dat die slagoffer (19) op pad huis toe was toe 'n groep hom aangeval het.
“Albei sake word tans ondersoek. Nog verdagtes sal in hegtenis geneem word soos die ondersoek ontvou,” sê Spies.
Hy sê intussen het Pacaltsdorp-polisiebestuur en 'n afvaardiging van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) die skool besoek en die situasie met verteenwoordigers van die skool bespreek.
“Polisiesigbaarheid is ook verhoog met die ontplooiing van die plaaslike polisie, Openbare Orde Polisie (Pops) en K9-lede in die omgewing. Hulle monitor die situasie en is voorbereid op enige gebeurlikheid. Soortgelyke reëlings is ook in plek vir komende skoolgeleenthede.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'