Update
GEORGE NUUS - Twee verdagtes wat op Woensdag 14 Julie in hegtenis geneem is ná 'n skietvoorval in Hoopstraat, sal op Vrydag 30 Julie in die plaaslike landdroshof vir hul borgtogaansoek verskyn.
Zikhona du Toit (24) en Usiphesande Mcosana (26) is kort na die voorval op Woensdag 14 Julie op die toneel in hegtenis geneem ná 'n 9 mm-pistool in hul besit gevind is. Hulle het op Vrydag 16 Julie hul eerste hofverskyning gemaak.
Met die polisie se aankoms op die toneel omstreeks 12:00 die middag is die slagoffer, Rico Basson Cummings (34) op die vloer aangetref. Hy het 'n skietwond aan sy nek opgedoen.
Hy is na die hospitaal geneem, maar is Maandag 19 Julie dood. Die presiese oorsaak van sy dood moet nog deur die nadoodse ondersoek bevestig word, maar volgens 'n betroubare bron na aan die George Herald, het die skietwond Cummings se dood veroorsaak.
LEES HIER: Skietvoorval in Hoopstraat
Die polisie het beslag gelê op die vuurwapen met ammunisie en die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem op aanklag van besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
"Hulle staan op die stadium tereg op aanklag van poging tot moord aangesien die oorsaak van sy dood nog nie bevestig is nie," sê Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'