Gallery
GEORGE NUUS - Die beskadiging van die Kaaimansbrug en Silwerrivierbrug is onder Erfenis Wes-Kaap se aandag gebring. Hierdie twee brûe is die eerste brûe wat in die Sewepassepad aangetref word, vanaf Nelson Mandela Universiteit George-kampus in die rigting na Wilderness.
'n Onlangse berig (George Herald, 28 Julie bl.8) oor die skade wat by die Silwerrivierbrug aangebring is, het 'n reaksie onder liefhebbers van George se erfenis ontlok.
Beide brûe is sowat 120 jaar oud en van onskatbare historiese waarde. Die skade aan die Kaaimansbrug is glo reeds jare terug aangebring.
Volgens ondervoorsitter van die George Erfenistrust, Natie de Swardt, het die Simon van der Stel-stigting in die Suid-Kaap die saak verder geneem en Erfenis Wes-Kaap gevra om die saak te ondersoek.
"Ons betreur die beskadiging en die gebrek aan waardering vir die belang van erfenis ten sterkste," het De Swardt gesê.
"Erfenis het wêreldwyd groot aantrekkingskrag vir toeriste. In baie ander lande is ou kragstasies, konfyt- en ander fabrieke, meulens en spoorwegstasies belangrike toerisme-aantreklikhede. Die Sewepassepad vervul dieselfde rol in die Suid-Kaap en dit is belangrik dat dit in stand gehou word."
Ooggetuie
Onsekerheid bestaan oor presies wanneer die Silwerrivierbrug beskadig is. 'n Hele hoek en deel van die brug word vermis. 'n Ooggetuie wat beweer die ongeluk het verseker vroeër vanjaar gebeur, het George Herald met inligting geskakel. Volgens die ooggetuie het hy in Maart of April vanjaar daardie roete met sy fiets gery, toe hy die ongeluk waarneem.
FOTO'S: Beskadiging van Kaaimansbrug en Silwerrivierbrug
'n Trok het blykbaar in die brug vasgesit, en 'n stuk van die brug is afgekap in 'n poging om die trok te bevry.
"Ek is so spyt ek het nie 'n foto van die toneel geneem nie. Dit sou kon help om die saak verder te voer," het hy gesê. "Ek het omtrent gesukkel om met my fiets aan die ander kant van die rivier te kom."
'n Insleeptrok was blykbaar ook op die toneel om die voertuig van die brug te bevry. Die ooggetuie kan ongelukkig nie enige fynere besonderhede onthou nie.
Wette
Volgens De Swardt is die beskadiging van die Silwerrivierbrug 'n oortreding van die Wet op Erfenishulpbronne van 1999.
"Sonder om tegnies te raak, die Wet op Erfenishulpbronne bepaal in artikel 27 (18): Niemand mag enige erfenisterrein vernietig, beskadig, ontsier, uitgrawe, verander, uit sy oorspronklike posisie verwyder onderverdeel of die beplanningstatus verander nie. Verdere artikels skryf sanksies soos boetes en tronkstraf voor."
Hy verduidelik die geskiedenis van erfenisbewaring as volg: "Oorlede dr Matthys Strydom was die dryfkrag agter die verklaring van deel van die pad tot nasionale gedenkwaardigheid. Die ou wet op nasionale monumente en nasionale gedenkwaardighede is in 1999 geskrap en in geheel vervang deur die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne van 1999. Die nuwe wet het voorsiening gemaak vir die administreer van erfenis op drie vlakke: Nasionaal, provinsiaal en plaaslik.
"Ingevolge hierdie wet van 1999 het alle voormalige nasionale monumente provinsiale erfenisterreine geword. Die Sewepassepad is dus nou 'n provinsiale erfenisterrein. (Dit is nie afgradeer of minder belangrik as 'n nasionale terrein nie - dit gaan oor die administrasie van die terrein)."
"Ter interessantheidshalwe: Artikel 3 van die wet van 1999 bepaal dat erfenishulpbronne deel van die nasionale besit (National estate) vorm. Dit beteken dat iemand wat in Bela-Bela of in Putsondergat woon belang het by erfenis buite George of enige ander plek in die land en 'n klag kan lê as die erfenis beskadig word."
Nog 'n hoeksteen van die Kaaimansbrug het aandag nodig. Wet op Erfenishulpbronne bepaal: "Niemand mag enige erfenisterrein vernietig, beskadig, ontsier, uitgrawe, verander, uit sy oorspronklike posisie verwyder onderverdeel of die beplanningstatus verander nie."
Geskiedenis deur die pen van Natie de Swardt:
"My pa, wat in 1919 gebore is, het voor hy skool toe is in 1924 'n transporttog van George na Knysna meegemaak. Hulle het "negosieware" na Knysna geneem en pik-, byl- en hamerstele teruggebring. Die tog het vyf dae na elke kant geneem en saans is by die amptelike uitspannings oorgestaan. Die uitspannings is deur die afdelingsrade in stand gehou.
Daar was voer beskikbaar en sommige het dipplekke en selfs klein begraafplase gehad. (Voor verkoeling moes jy gou van 'n lyk ontslae raak). Een van die uitspannings is nou skoongemaak aan die oostekant van die pad tussen Wildernis en Wildernishoogte. Die ou dip is nou mooi oop en sigbaar van die pad.
"My Oupa-hulle se transporttog was tipies van die tyd. Die ossewaens het gehelp om Knysna se houtrykdom aan die kolonie en subkontinent beskikbaar te stel. Baie stele, meubels en ander houtware is per ossewa na George gebring en van daar verder na die diamantvelde en goudvelde.
"Die heining langs die 1879-spoorlyn van die Kaap na die Vrystaat (Cape Government Railway) het vandag nog plek-plek, waar die spoor nie verlê is nie, stinkhoutpale wat van Knysna kom.
"Voor die voltooiing van Bain se pad tussen George en Knysna was dit 'n nagmerrie. Een van die interessante beskrywings daarvan is gekoppel aan mev. Sophy Gray. Sy het in 1848 saam met haar man, die eerste Anglikaanse biskop in Suid-Afrika, aangekom en het hom op sy reise vergesel. Daarvan is beskryf in Gottsche se boek: The Bishop's Lady, wat in die biblioteek is. Om in Knysna te kom, moes sy en ander deur verskeie diep riviere reis."
Silwerrivierbrug op die Sewepassepad is tweede aan die beurt wanneer jy van NMU na Wilderness reis. Foto: Natie de Swardt
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'