GEORGE NUUS - 'n Seun (12) is Saterdagmiddag, 17 Augustus, omstreeks 13:00 op die N2 naby die Thembalethu-brug omgery.
Volgens 'n ooggetuie het die seun oor die pad gehardloop toe 'n wit VW Polo, wat in die rigting na Mosselbaai gery het, hom tref.
"Daar was 'n kar wat voor die Polo gery en uitgeswaai het vir die kind. Die bestuurder van die Polo het seker nie die kind gesien nie en hom getref," het die ooggetuie Woensdagoggend aan die George Herald gesê.
"Ek het die kind in my arms gehou totdat nooddienste opgedaag het. Hy het 'n oop kopwond gehad en daar was baie bloed."
Volgens 'n betroubare bron na aan die George Herald is die seun deur Metro-ambulansdienste na die George-hospitaal geneem waarna hy dieselfde dag per helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal in die Kaap geneem sou word.
Verdere besonderhede rondom die voorval was teen druktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'