’n Warm onder die kraag mnr. Hans Dreyer wys hier ‘n voorbeeld van bourommel wat al jare lank ‘n hanetree van sy netjiese meenthuiskompleks lê.
GEORGE NUUS - Die jare lange storting van alles denkbaar, van huisafval tot bourommel en tuinvullis, maak dat Eden-belastingbetaler Hans Dreyer die strydbyl opneem. Al die storting vind op die drumpel van Eden/Loeriepark in George se meer gegoede woonbuurte plaas.
Strawwe boetes en ‘n meer pro-aktiewe houding vanuit die geledere van die George-munisipaliteit is wat die verontwaardigde Dreyer graag sal wil sien.
Van die onwettige vullis wat wyd verspreid lê, sluit sakke met korrespondensie, etikette en ander persoonlike items in. Om sulke morsjorse op te spoor, behoort dus nie te moeilik te wees nie. Dis vullis lê verspreid en in hope in die groenstrook langs Stander- en Meyerstrate, by die ingang van die Tuinroete-dam.
Dis vir hom onbegryplik dat inwoners vullis op hulle eie drumpel stort. "Vir my is dit totaal onooglik. Dit is boonop ‘n gesondheidsrisiko met rotte wat uitbroei, sowel as ‘n brandgevaar in die oorgroeide areas," het Dreyer briesend aan die George Herald gesê. Hy het die aangeleentheid ook met sy nuwe raadslid, Gert Niehaus opgeneem. (Niehaus het intussen gesê die saak geniet aandag). Dreyer voel ook dat die sekuriteitsbeamptes by die Tuinroete-dam wat swart sakke agter hulle hut laat rondlê, dit gerus kan opruim en op ‘n Vrydag uitsit vir verwydering."
*’n Inwoner sê sy was verbaas om te sien hoe ‘n vrou ‘n leë bruinsak waarin vermoedelik ‘n wegneemete was, in die veld, slegs ‘n hanetree van waar sy woon, gooi.
*Die Hoof van Omgewingsake van George-munisipaliteit, André Smit, is genader vir kommentaar en het teen druktyd nog nie op Dreyer se klagte gereageer nie.
In antwoord op ‘n soortgelyke klagte het Smit gesê dat die soort ontwettige aktiwiteite dikwels snags gebeur. Dit kos sy afdeling duisende rande om telkens ‘n vragmotor uit te stuur om vullis op te tel. ‘n Paar ton onwettig gestorte vullis word maandeliks uit woonbuurte verwyder.
*Jurie Bezuidenhout, burgemeestersko-miteelid wat in Wyk 18 woon, het aangedui dat die aangeleentheid aandag sal geniet. Die kwessie oor die veiligheid saans by die dam is deur ‘n ander inwoner opgeneem aangesien die sekuriteitsbeamptes nie meer saans diens doen nie. Die klagte geniet ook die aandag van die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Trevor Botha.
ARTIKEL EN FOTO: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
Posted on: 00:00 Thu, 09 June 2011
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: