GEORGE NUUS - Die Tuinroete Botaniese Tuin, 'n nie-winsgewende organisasie, het uitbreidingsplanne. Om dit reg te kry word fondse benodig en daar is besluit om 'n gelukstrekking te hou.
Johan Botha, een van die organiseerders, het gesê in 2018/19 het die Tuinroete Botaniese Tuin twee baie suksesvolle gholfdae gehad, maar met Covid-19 kon dit nie in 2020 gehou word nie.
Met die geld wat met die twee gholfdae ingesamel is, is 'n glashuis gebou en die aalwyntuin se uitleg verbeter.
Volgens hom is daar met die onsekerheid van Covid-19 besluit om vanjaar 'n gelukstrekking te hou eerder as 'n gholfdag.
Proteas in blom by die Tuinroete Botaniese Tuin.
Daar is vier gelukstrekkings:
- 'n Bakkie vrag se inhoud met drinkgoed waaronder alkoholiese drank, koeldranke en water;
- Drie slaglammers
- R3 000 kontant en
- ’n Bakkie vrag (byvoorbeeld Nissan se inhoud) met groente en koopbewyse.
Elke lootjie kos R100.
Die plan is om met die fondse wat ingesamel word 'n area te omskep in 'n voorstelling van die Outeniquapas en die plantegroei (flora) van die pas. Die fondsinsameling is gemik op 'n jaarlikse projek.
Hy het gesê die botaniese tuin se leuse is: Bewaar, Ontdek, Vertoon van ons inheemse plante.
Baie moeite word ook gedoen om die Botaniese tuin verbruikersvriendelik te maak vir besoekers en stapgroepe, skoliere en toeriste word aangemoedig aan om die voortreflikheid van die inheemse plantegroei van die Tuinroete te kom geniet.
Die trekking vind op 21 Oktober plaas en wenners sal telefonies gekontak word.
Kaartjies kan nog tot 18 Oktober by die kantoor van die botaniese tuin gekoop word. Of kontak 044 874 1558.
Speldekussings in blom by die Tuinroete Botaniese Tuin. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'