GEORGE NUUS - Tuiniqua Versorgingsoord het hul dank uitgespreek veral teen ‘n amptenaar van George Munisipaliteit en hul Wyksraadslid nadat die sypaadjies in Kerkstraat vir die gemaklike beweeg van die bejaardes herstel is.
Mnr. Tobie Nortje, voorsitter van die Tuiniqua Versorgingsoord Beheerraad het in sy bedankingsbrief aan die Munisipale Bestuurder, mnr. Trevor Botha, gesê die beheerraad wil graag hul opregte dank en waardering oordra vir die herstelwerk aan die sypaadjies in Kerkstraat.
Hy het terselfdertyd Rdl. Gerrit Pretorius, hul Wyksraadslid van Wyk 22, en mnr. Charlie Tekane van Siviele Ingenieursdienste bedank vir die bekwame wyse waarop hulle bystand verleen het.
Nortje het gesê Tuiniqua is in Kerkstraat geleë en die meerderheid van hul 200 inwoners maak van die sypaadjies in Kerkstraat gebruik om winkels toe te stap of sommer net vir ontspanning.
Die sypaadjie was egter so ongelyk en gevaarlik vir ouer mense.
Tekane en Rdl Pretorius het onmiddellik werk gemaak en die gesorg dat die sypaadjies opgegradeer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'